Kiwi’s begin soektog na nuwe afrigter
2011-10-27 13:01
Johannesburg – Terwyl sy seëvierende Wêreldbeker-afrigter, Graham Henry, steeds doodstil is oor sy toekomsplanne, het die Nieu-Seelandse Rugbyunie (NZRU) uitnodigings begin stuur aan individue wat die unie vir die pos van All Black-hoofafrigter sal oorweeg.
Henry se kontrak het geëindig ná die All Blacks se welslae in Sondag se eindstryd teen Frankryk. Hy was agt jaar lank aan die stuur en die eerste Kiwi-afrigter in 24 jaar wat die Wêreldbeker wen.
Dié 65-jarige breier is in die dae voor die eindstryd gepols oor sy toekomsplanne, maar hy het geweier om daarop te antwoord. Sou hy nie aansoek doen nie, word sy assistent, Steve Hansen, as die beste kandidaat beskou.
Maar wie ook al die leisels by hom neem, moet groot skoene probeer vul. Sedert hy John Mitchell ná die Wêreldbekertoernooi van 2003 vervang het, het Henry die All Blacks tot 88 oorwinnings gebrei. Daar was net 15 nederlae – dus ’n wenpersentasie van 85%.
Dit het gelyk asof sy kop sou rol nadat sy span in die kwarteindronde van 2007 se toernooi uitgeboender is, maar hy het die Nieu-Seelandse rugbybase oortuig om hom nog ’n kans te gee, met goeie gevolge.
Henry het juis eergister hierna verwys toe hy hom ten gunste van die behoud van Martin Johnson as afrigter van Engeland uitgespreek het.
Johnson, wat die Webb Ellis-beker in 2003 as Engelse kaptein gelig het, is onder skoot nadat span in die kwarteindronde van vanjaar se toernooi uitgeboender is.
“Soms lewer dit dividende om geloof in iemand te behou,” het Henry volgens ESPN oor dié kwessie gesê.
“Dit sou die maklikste ding ter wêreld gewees het om my ná 2007 weg te jaag, maar ek het nog ’n kans gekry.
“Ek sou graag wou dink hul geloof en vertroue is terugbetaal. Dalk is daar ’n les te leer. As Martin beskou word as die man om Engeland vorentoe te neem, wil jy hom mos nie ’n tweede kans ontneem nie.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Beeld