Kings dalk tog in CB
2011-08-15 07:03
Port Elizabeth - Diegene wat dink die Oostelike Provinsie Rugbyunie (OPRU) het sy eie keel afgesny deur vir die verkleining van die Curriebeker-reeks se Premierliga te stem, maak glo ’n fout.
Anele Pamba, die uitvoerende hoof van die OPRU, het Sondag gesê sy unie sien die groter prentjie. “Dit maak op ekonomiese vlak sin om die Premierliga tot ses spanne te verklein.”
Volgens Pamba beteken dit nie die einde van die OP-Kings se drome om in die Premierliga te speel noudat daar net ses spanne daarin gaan wees nie.
“Mense moenie oorhaastige afleidings maak nie. SA Rugby moet nog bepaal wie die ses spanne gaan wees wat in die Premierliga gaan speel.
“Die Kings moet net aanhou presteer en moet probeer om die Eerste Liga te wen. Besonderhede van promosie-relegasiewedstryde moet nog bekend gemaak word.”
Hoewel Pamba hom nie daaroor wou uitspreek nie, is dit ook moontlik dat die Southern Kings – en nie die OP-Kings nie – volgende jaar een van die ses spanne in die Premierliga gaan wees.
Ingevolge SA Rugby se oogmerke met die Suidoos-Kaapse franchise maak dit sin.
Die Southern Kings is veronderstel om hom voor te berei vir die Super Rugbyreeks in 2013, maar hoe gaan dit moontlik wees as al sy spanne (die Oostelike Provinsie, die Suidwestelike Distrikte en die Grens) in die Eerste Liga speel?
Die Kings het vanjaar aan die Nasiesbeker-toernooi in Roemenië deelgeneem, maar dié toernooi duur net ’n week en help bitter min om die Kings slaggereed vir Super Rugby te kry.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg