'King Carlos' wil nie terug na Kiwi-land
2011-11-30 12:15
Kaapstad – Die voormalige All Black-losskakel Carlos Spencer het onthul dat hy nie gou weer na sy geboorteland sal terugkeer nie.
Spencer, wat tans die Goue Leeus se hulpafrigter is, het in 'n onderhoud met Nieu-Seeland se Herald-webtuiste gesê dat hy 'n besluit gemaak het om nie terug te keer na Auckland nie.
Die Kiwi het 35 toetse vir die All Blacks gespeel waarvan die laaste in 2004 teen Australië was.
"Om eerlik te wees, ek het geen ambisie om terug te gaan nie. Natuurlik is daar sekere goed waaroor ek spyt is – familie, vriende, my kinders wat nie hul grootouers so gereeld kan sien nie."
"Maar om weer in Nieu-Seeland te woon, ek sal dit eerlikwaar te klein vind...My toekoms is in Suid-Afrika en as dit nie hier is nie, sal ek Engeland toe gaan," het hy gesê.
Spencer het as speler gereeld op sy Harley Davidson-motorfiets vir oefensessies in Auckland opgedaag, maar sê daardie dae is beslis verby.
"Ek het jare laas op 'n motorfiets gejaag. Die paaie in Johannesburg is bietjie gevaarlik daarvoor. Die stad het 'n paar mal bestuurders, veral die taxibestuurders."
Lees die volledige artikel hier.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24