‘Keegan was verskil tussen spanne’
2011-09-12 09:01
Durban – As die rugbyspan van die Haaie speel soos in Saterdag se sege van 33-20 hier op Kingspark oor die Pumas, is daar geen kans dat hy weer die Curriebeker-kampioen sal word nie, het sy afrigter, John Plumtree, erken.
Al het die Haaie vyf ligapunte verdien, was dit ’n vertoning wat ver benede die peil is wat verwag word van ’n potensiële kampioen.
“Dit was baie frustrerend om al die foute te sien en die jong spelers besef nou wat die intensiteit van dié reeks is. Ons was baie pap en het nie met die vuur gespeel wat ek verwag het nie,” het Plumtree gesê.
Rustyd was die besoekers uit Mpumalanga nog met 17-14 voor, maar hul stoom het opgeraak in die tweede helfte en die Haaie kon beheer neem.
Volgens Jimmy Stonehouse, die Pumas se breier, het sy spelers in die tweede helfte gesukkel om hul hande op die bal te kry.
“Ons het ’n paar swak besluite geneem wat ons duur te staan gekom het. Die lynskoppe was swak en ’n paar simpel aanslane het ook tot ons ondergang gelei.
“Verder dink ek Keegan Daniel was die groot verskil tussen die spanne. Elke keer wanneer hy met die bal gehardloop het, het hy die gapings in ons verdediging geslaan.
“Ek het gesit en dink ek sou wat wou gee om ’n span soos die Haaie af te rig. Hulle het soveel ouens uit (by die Wêreldbeker-toernooi) en steeds kan hulle ’n span vol Springbokke kies.”
Puntemakers: Haaie 33 (14): Drieë: Craig Burden, Jean Deysel, Anton Bresler, Jacques Botes (2). Doelskoppe: Frederic Michalak (4). Pumas (20 (17): Drieë: Coenie van Wyk (2). Doelskoppe: Van Wyk (2). Strafdoele: Van Wyk, Tiaan Marx.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24