Kan dié Leeus gestuit word?
2011-09-17 08:19
s daar ’n span wat die Leeus kan stuit?
Selfs wanneer die Rooibontes se enjin nie goed geolie is nie, is daar nog genoeg vuurkrag om die taak suksesvol afgehandel te kry.
Dit was gisteraand hier op Olënpark die geval in hul Curriebeker-rugbysege van 43-23 oor die Luiperds.
Ná die swaar is daar nou al soveel optimisme dat ’n groot getal ondersteuners in rooi truie uit hul gate gekruip het en genoeg gehad het om oor te juig.
Of die Curriebeker ’n versiering in Johannesburg gaan word, is ’n vraag wat nog ’n antwoord soek, maar dat die leeuloop al weer breëbors gedoen word, is gewis.
Die Leeus het in die eerste helfte nooit regtig uit derde rat gekom nie, maar steeds drie drieë gedruk.
Hulle het met rustyd met 21-9 voorgeloop.
Telkens wanneer die Leeus die bal wyd gespeel het, was hulle gevaarlik, maar dit het té sporadies gebeur.
Al het die tuisspan in die eerste 40 minute net drie strafdoele kon wys vir sy moeite, het hy meer as sy man gestaan.
Was dit nie dat die vleuel Vainon Willis nie die bal kon beheer met ’n oop doellyn voor hom nie en het die Luiperds nie ’n lynstaanbal op die Leeus-doellyn verloor nie, kon die gaping selfs veel kleiner gewees het toe die twee spanne kante geruil het.
Die Leeus-flank Derick Minnie was alomteenwoordig en is vir sy goeie spel beloon met twee drieë.
Hy het weer gewys watter hardwerkende speler hy is.
Die slot Franco van der Merwe, een van ’n aantal Leeus wat in ’n stadium hul rugby in dié studentedorp gespeel het, was ook prominent.
Nóg een van hulle, die skrumskakel Michael Bondesio, is ná skaars ’n halfuur se spel deur Rudy Paige vervang.
Die Leeus se bonuspunt-drie is kort ná rustyd deur die stut Patric Cilliers gedruk.
Met die vryheid wat die vierde drie gebied het, het die manne van die Goudstad hul avontuurlustigheid vlerke begin gee.
Alwyn Hollenbach het deur verskeie gate in die middelveld geglip.
Die gaping tussen die spanne was wyd, maar met beperkte kanse het die Luiperds tog met tye ondernemende spel gelewer.
Puntemakers:
Lions 43 (21):
Drieë: Derick Minnie (2), Jaco Taute, Patric Cilliers, Michael Killian, Johan Snyman.
Doelskoppe: Elton Jantjies (5).
Strafdoel: Jantjies.
Luiperds 23 (9):
Drieë: Johann Laker, Gavin Williamson.
Doelskoppe: Clayton Durand (2).
Strafdoele: Wesley Dunlop
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24