Kaapse senter na die Haaie
2011-11-01 10:04
Johannesburg. – Die 23-jarige Kapenaar Tim Whitehead word nou nadergetrek om die Haaie se probleme in die middelveld op te los.
Whitehead, wat die Westelike Provinsie se Curriebeker-veldtog met ’n kniebesering misgeloop het, het ’n kontrak vir twee rugbyseisoene met die Haaie gesluit.
Whitehead sal moet help om die gaping te vul wat Stefan Terblanche se uittrede gelaat het.
Terblanche het Maandagaand by ’n spesiale geleentheid vir hom in Durban aangekondig dat sy speeldae by die Haaie verby is.
Hy gaan wel oor die volgende paar maande vir die Ierse klub Ulster uitdraf.
Dan is daar ook uit Durban bevestig dat die broers Du Plessis, Bismarck en Jannie, nog tot 2013 vir die Haaie beskikbaar is.
Rudolf Straeuli, die Haaie se kommersiële bestuurder, het Maandag gesê daar gaan nie nou sommer paniekerig geraak word en die tjekboek sal nie kwistig ingespan word om spelers te koop nie.
“Ons het baie vertroue in ons akademie-stelsel en daar is baie goeie jong spelers wat daar deurkom. Ons sal vertroue in hulle stel vir die toekoms.”
Hoewel Straeuli toegee die Haaie het nie Saterdagaand goed gespeel in die Curriebeker-eindstryd teen die Leeus nie, “beteken dit nie skielik dat ons spelers nou swak is nie. Om een swak dag te hê, maak nie van jou ’n swak speler nie en daarom is dit nie nodig vir paniek nie.”
Whitehead se skuif na die Haaie beteken dat hy, Meyer Bosman en Marius Joubert in ’n stryd gewikkel sal wees om plekke in die middelveld.
Riaan Viljoen sluit hom ook vanaf Griekwaland-Wes by die Haaie aan en hy kan ook as senter oorweeg word as daar besluit sou word om Patrick Lambie heelagter te laat speel.
Net soos Lambie, kan Viljoen ook as heelagter, senter en losskakel oorweeg word.
Dan is daar ook nog die baie opwindende Paul Jordaan, wat losskakel vir die o.21-span gespeel het, maar ook as senter en heelagter ingespan kan word.
Daar sal ook goed besin moet word oor wie as kaptein in die Super Rugby-reeks diens sal doen. John Plumtree, die Haaie se afrigter, was vol lof vir Keegan Daniel wat die leisels gevat het in die Curriebeker-reeks, maar daar is diegene wat steeds glo hy is nie uitgeknip vir dié leiersrol nie.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24