Juan praat oor rugby-toekoms, kapteinskap
2011-10-12 11:02
Bloemfontein – Om kaptein van die Springbok-span te wees, is ’n groot eer, maar die Cheetah-ysterman Juan Smith het nou net een doel voor oë – om terug op die rugbyveld te kom en goeie rugby te speel.
“My fokus is nou om volkome te herstel en op die veld te kom. As so iets (die kapteinskap van die Springbokke) oor my pad kom, sal ek dit dan hanteer,” sê die Bok-flank.
Volgens hom is dit ’n eer en voorreg om die Bokke op die veld te lei, maar ook ’n groot verantwoordelikheid.
Volksblad het gister berig Smith en die Westelike Provinsie se flank Schalk Burger is die gunstelinge om as Bok-kaptein aangewys te word.
Die Cheetah-breker het weens ’n beseerde haksening nie vir die Springbokke in die Wêreldbeker-rugbytoernooi in Nieu-Seeland uitgedraf nie.
Hy sal van Desember af weer voluit begin oefen en hopelik volgende jaar in Februarie slaggereed wees om in die Cheetahs se eerste Super-Rugby-wedstryd te speel.
“Op die oomblik gaan dit goed.”
Oor hoe hy homself die laaste ruk besig gehou het, sê Smith: “Ek het probeer pa wees en was op die plaas.”
Hy en sy vrou, Caroline, het twee dogtertjies, Clerice en Caylin.
Smith het ook rugby op die kassie gekyk.
“Die Bokke was baie ongelukkig om nie (Sondag) te gewen het nie. Ons het al die speelwerk gedoen.”
Hy hou nie daarvan om skeidsregters te blameer nie, maar gee toe mnr. Bryce Lawrence, wat die blaser in die Bokke se kwarteindstryd teen Australië was, het swak beslissings, veral by die afbreekpunte, gemaak.
Smith sê met tye was daar duidelik hande in die losskrums wat die bal stadig laat uitkom en die Bokke se momentum gebreek het.
Hoewel hy huiwerig is om te sê ’n nuwe era breek nou ná die WB vir Springbok-rugby aan, meen Smith dit is ’n feit dat nuwe jong spelers sal begin “deurkom”.
“Dit is ’n goeie ding.”
Ondanks kritiek oor spankeuses, sê Smith al die spelers wat na Nieu-Seeland gebring is, is van die bestes in Suid-Afrika.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Volksblad