Joubert dalk uit CB-eindstryd
2011-10-25 09:04
Johannesburg. – Daar hang ’n vraagteken oor die deelname van Marius Joubert aan Saterdag se Curriebeker-eindstryd hier in die Leeukuil.
Daar is die moedswilliges onder ons wat sal sê dit is dalk eerder ’n terugslag vir die Leeus-rugbyspan se wenkanse as vir die Haaie s’n.
Dié Haaie-senter het ’n hou op ’n sensitiewe plek gekry in die halfeindstryd teen die Cheetahs, en hy sal Donderdag ’n fiksheidstoets moet slaag voordat hy as Stefan Terblanche se sentermaat kan diens doen.
Volgens Ewoudt van der Linde, die spandokter, is die beenbesering wat die Haaie se losskakel, Frederic Michalak, opgedoen het toe hy en Terblanche vroeg in die Cheetahs-stryd teen mekaar vasgehardloop het, nie ernstig nie en sal hy reg wees om te speel.
As Joubert nie kan speel nie, kan dit nogal kopkrap verg oor ’n senterpaar. Meyer Bosman, wat Terblanche se gereelde sentermaat is, is nog op die beseringslys, wat kan meebring dat Adrian Jacobs in die prentjie kom.
Ou “splinterboud” soos dié kwiksilwer oud-Bok gedoop kan word omdat hy soveel van sy tyd op die plaasvervangersbank deurbring, is meestal dié seisoen as ’n impakspeler gebruik.
John Plumtree, die afrigter van die Haaie, kan dit egter ook oorweeg om Patrick Lambie van heelagter na senter te skuif en Odwa Ndungane dan in die nr. 15-trui te laat speel, met Lwazi Mvovo as vleuel.
Moontlikhede is daar genoeg, maar Plumtree sal moet raakvat.
In die Haai-kamp sal gehoop word die gebeure van 15 jaar gelede kan herhaal word.
Die geskiedenis neig in daardie rigting, want in 1995 het Natal, toe ook met ’n Franse-losskakel in Thierry Lacroix, die Westelike Provinsie in Durban in die eindstryd geklop en die volgende jaar Transvaal op Ellispark om die beker te behou.
Verlede jaar het die Haaie juis die WP in Durban slae gegee om die tweede keer in drie jaar die kampioen te word. Nou herhaal die geskiedenis hom met die volgende eindstryd wat in die Goudstad teen die Leeus is. Die Haaie het Maandagmiddag ’n ligte oefensessie op Kingspark gehad.
Daar is nog onsekerheid oor wanneer die Haaie Johannesburg toe kom. Daar was sprake dat hulle reeds teen die middel van die week sou kom om dan by ’n rugby-akademie in die Magaliesburg-omgewing hul finale voorbereiding te doen, maar dié plan kan dalk gewysig word.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24