Joubert blaas Sesnasies, Bryce kry koue skouer
2011-11-02 12:10
Kaapstad – Die Suid-Afrikaanse skeidsregter Craig Joubert is gekies om aanstaande jaar twee Sesnasies-wedstryde te blaas terwyl die omstrede Nieu-Seelander Bryce Lawrence deur die Internasionale rugbyraad oor die hoof gesien is.
Volgens die IRR se webtuiste sal Joubert skeidsregter vir die wedstryde tussen Ierland en Italië in Dublin op 25 Februarie en Wallis teen Frankryk in Cardiff op 17 Maart wees.
Joubert het die onlangse Wêreldbeker-eindstryd in Auckland, wat die All Blacks met 8-7 teen Frankryk gewen het, geblaas.
Lawrence, wat hewig gekritiseer is vir sy swak hantering van die WB-kwarteindstryd tussen die Bokke en Australië, is nie as skeidsregter vir 'n enkele Sesnasies-wedstryd oorweeg nie.
Maar die IRR dring aan dat die Kiwi slegs 'n "blaaskans" neem omdat hy 'n besige jaar van internasionale en plaaslike wedstryde agter die rug het.
Hy sal na verwagting in Junie 2012 weer in aksie wees vir die toetse.
Nog 'n Suid-Afrikaner, Jonathan Kaplan, sal die toets tussen Australië en Wallis in Desember by die Millenium-stadion in Cardiff blaas.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24