Josh Strauss wil vir Skotland speel
2012-09-12 13:41
Kaapstad – Josh Strauss se skuif na Glasgow Warriors is deel van 'n plan om hom kiesbaar te maak vir Skotland vir die 2015 Wêreldbeker-toernooi.
Die president van die Goue Leeus-rugbyunie (GLRU), Kevin de Klerk, sê die besluit om Strauss van sy kontrak, wat eers in Oktober 2013 sou verstryk, vry te stel is weens buitengewone omstandighede gemaak.
"Josh se skuif na Glasgow sal aan hom die kans gee om vir Skotland te speel in die volgende Wêreldbeker," het de Klerk Woensdag aan die keo-webtuiste gesê.
"Hy is 25 jaar oud en word die geleentheid gegee om 'n skuif oorsee te maak. Die feit dat hy oor drie jaar straks vir Skotland kan speel was 'n beduidende faktor in die besluit. Volgens die reëls van die Internasionale rugbyraad (IRR) moet Strauss 36 agtereenvolgende maande in Skotland woonagtig wees voor hy kwalifiseer," het hy veruidelik.
De Klerk het bygevoeg dat geen ander spelers van hul huidige kontrakte vrygestel sal word nie.
"Ons moet verseker dat ons voortgaan om 'n mededingende span [tydens die Lions se afwesigheid in die Super-reeks] te bou. Die gekontrakteerde spelers is die kern van ons groep en 'n baie belangrike deel van die span."
Ervare spelers soos die haker Bandise Maku, losskakel Butch James en senter Waylon Murray is nie deel van die groep gekontrakteerde spelers nie.
Intussen het De Klerk bevestig dat daar planne is om die Lions in 'n toernooi te laat speel tydens die Super-reeks in 2013. Die franchise, saam met die IRR en Saru, probeer tans om 'n inisiatief saam te stel.
"Niks is nog bevestig nie, maar ons kyk daarna om teen Europese, Amerikaanse en Eiland-spanne te speel."
"[Die Springbok-afrigter] Heyneke Meyer ondersteun hierdie inisiatief, so ons spelers sal oorweeg word vir nasionale diens."
Lees verder.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.