Jongi se loopbaan dalk weer op koers
2011-10-27 13:01
Bloemfontein – Die Bok-vleuel Jongi Nokwe se rugbyloopbaan kan straks binnekort ’n tweede asem in die Baai kry.
Nokwe was reeds in Port Elizabeth vir fiksheidstoetse en kan aanstaande jaar vir die Oostelike Provinsie-Kings uitdraf indien ’n ooreenkoms met die Vrystaat bereik word.
Die Cheetahs hoop egter om Nokwe se dienste steeds vir 2012 se Super Rugbyreeks te behou.
Volgens Naka Drotské, die Vrystaat se Curriebeker- én die Cheetahs se Super Rugbyafrigter, laat sy begroting nie toe om Nokwe weer te kontrakteer nie.
Die 29-jarige Nokwe, wie se Vrystaat-kontrak aan die einde van Oktober verstryk, het die afgelope jaar weens ’n ernstige kniebesering byna geen rugby gespeel nie.
Dié haastige Springbok, met vier toetse agter sy naam, het in September verlede jaar in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Pumas ligamente in sy linkerknie geskeur en is twee weke daarna geopereer. Hy was weens dié besering nie vanjaar vir die Cheetahs in die Super Rugby- of Curriebeker-reeks in aksie nie.
Nokwe was teen die einde van 2011 se Curriebeker-reeks byna fiks en het as Vrystaat-leenspeler ’n wedstryd vir die Griffons in die reeks se Eerste Liga gespeel. Sy peil was egter nie na wens nie en die Perses het besluit om hom nie weer te oorweeg nie.
Intussen het hy saam met Niel du Plessis, die Vrystaat se fiksheidsafrigter, aan sy vaart en fiksheid gewerk, maar kon nie betyds herstel om deur die Vrystaters in die Curriebeker-reeks oorweeg te word nie.
“Ons is nog nie 100% seker oor Jongi se toekoms nie.
“In dié stadium laat ons begroting my nie toe om hom ’n aanbod te maak nie. Ek weet hy was ’n week of wat gelede by die Kings as deel van ’n proeflopie. Hulle het sy fiksheid getoets en was glo gelukkig met sy spoedtoetse.
“Indien hy ’n kontrak met die Kings sluit, sal ’n ou graag wil kyk of ons hom nie dalk vir die Super Rugbyreeks in 2012 in Bloemfontein kan hou nie.”
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Beeld