Jonges gee dalk deurslag vir Stormers
2011-01-20 09:56
Kaapstad - Die Westelike Provinsie se generasie puik jong spelers kan straks deurslaggewend in die Stormers se aanslag in vanjaar se Super Rugbyreeks wees.
Met ’n uitgebreide toernooi wat groot fisieke eise aan spelers gaan stel, berei die Stormers voor met die verwagting dat dit ’n groter groep as in die verlede sal verg om die pad enduit te stap.
Elke span sal voortaan minstens 16 ligawedstryde speel. Die wenner sal waarskynlik 18 en moontlik 19 wedstryde moet speel.
Die Stormers het darem die noemenswaardige voordeel van kontinuïteit.
“Baie van die spelers is al drie jaar in ons strukture en ons het hulle goed leer ken.
“Die spelers wat verlede jaar in die Super14 gespeel het, maak weer ’n groot deel van die groep uit en dis ’n groot voordeel,” sê die Stormers se kondisioneringsafrigter, Steph du Toit.
“Die vernaamste aanpassings wat gemaak word, is dat meer spelers waarskynlik gebruik sal word en dat ons die juniors op dieselfde vlak moet kry.”
Met juniors verwys Du Toit nie noodwendig na jong spelers nie, maar ook na diegene wat minder ervaring op ’n hoë vlak het.
Du Toit meen dis nie buite die kwessie dat sekere spelers dwarsdeur die toernooi kan speel nie. “Daar is ’n bietjie geluk betrokke by die fisieke komponent en daar moet ook posisioneel daarna gekyk word.
“Die sielkundige aspek kan ook ’n rol speel,” sê hy.
Die WP se direkteur van afrigting, Rassie Erasmus, glo spelers loop vanjaar die gevaar om sielkundig moeg te wees teen die tyd dat die Drienasies-reeks en die Wêreldbeker-toernooi aanbreek.
“Ons prioriteit is die Stormers en die WP, maar almal wil hê Suid-Afrika moet goed vaar in die Wêreldbeker-toernooi. Die spelers dink ook daaraan en daarom moet dit in berekening gebring word,” sê Erasmus.
Die aanwinste CJ van der Linde (stut) en die senter Jean de Villiers kan vir die Stormers van groot belang wees ten einde die werklading in onderskeidelik die voorry en die middelveld op kritieke tye te verlig.
Wat die aanwending van juniors betref, glo Erasmus die groepwedstryde teen ander Suid-Afrikaanse spanne bied die beste kans op blootstelling aan onervare spelers.
“Daardie spelers speel al van skole- en o.19-vlak af teen mekaar,” het hy gesê.
Die Stormers het ’n loslootjie in die eerste ronde van die reeks en dit sal uiteraard ook ’n impak hê op die beplanning ten opsigte van kondisionering.
Met die WP en die Haaie wat verlede jaar in die Curriebeker-eindstryd gespeel het, het sekere spelers verlede jaar ook twee bykomende weke se werklading gehad.
Ofskoon Erasmus-hulle daarin geslaag het om oor ’n paar seisoene ’n sterk groep te kontrakteer, kan die moontlikheid dat daar op ’n tydstip op jong manne se nommers gedruk word nie buite rekening gelaat word nie.
Peter Grant se fisieke speelstyl kan straks ’n tol op dié losskakel eis en dit kan beteken dat Gary van Aswegen of Lionel Cronjé die nr.10-trui moet dra. Albei was verlede jaar nog o.21-spelers.
’n Vroeë besering aan Grant kan veral ’n groot terugslag vir die Stormers wees. Die Bolander Elgar Watts is ook ’n opsie, maar sy stelskopwerk is verdag.
Die WP se o.19- en o.21-spanne het verlede jaar albei hul provinsiale toernooie gewen.
Die Stormers begin egter met 10 wedstryde in Suid-Afrika alvorens hulle gaan toer en dit kan hul breier, Allister Coetzee, noop om aanvanklik konserwatief met sy spankeuses te wees sodat hulle momentum kan opbou.