Jong Luiperds in die kollig
2010-10-27 07:40
Johannesburg. - Nóg ’n uitblinker van die Luiperds se o.21-span sal straks Vrydag in George sy eerste proesel van groot rugby kry wanneer die Luiperds hul belangrikste wedstryd van die jaar speel.
Die Luiperds se o.21-kaptein, die senter Joubert Engelbrecht, is as ’n plaasvervanger gekies vir die tweede promosie relegasie wedstryd teen die SWD-Arende en kan dan sy senior buiging maak.
Tog het die Luiperds die hef in die hand voor die tweede uitklopstryd, aangesien hulle die Arende Saterdag met 37-22 in Potchefstroom geklop het.
Engelbrecht, ’n oud-skolier van die Hoërskool Upington, sal nie soos ’n vreemdeling voel nie, want hy sal een van sy spanmaats langs hom op die bank hê. Sy o.21-spanmaat, die opwindende heelagter SP Marais, het in sy buiging as plaasvervanger in Saterdag se sege oor die Arende twee van die Luiperds se drieë gedruk.
Die Luiperds se nuwe afrigter, Leon Boshoff, skroom duidelik nie om vertroue in jong spelers te plaas nie.
Jongelinge soos die stutte Eric Coetzee (23) en BG Uys (22) en die senter Kempie Rautenbach (22) is ook in die span, al het Boshoff se voorganger, Chaka Willemse, die spelers ook in sy spanne gekies.
Boshoff het een verandering aan sy beginspan gemaak, waar Draad Linde vir Brad Mockford op slot vervang. Linde speel in sy 100ste wedstryd vir die Luiperds.
Marco Botha berig dat die Arende hul asems ophou nadat hul regtervleuel, Baldwin McBean, op ’n aanklag van ’n gevaarlike duikslag teen die Luiperds skuldig bevind is. Hy sal egter eers vandag hoor wat sy straf is.
Die Luiperds se span is:
Danie Dames, Dumisane Matyeshana, Kempie Rautenbach, Walter Venter, Colin Lloyd, Clayton Durand, Michael Bondesio, RW Kember, Palm Koch (k), Victor Joubert, Draad Linde, Christo van Niekerk, Eric Coetzee, Gavin Williamson, BG Uys. PLAASVERVANGERS: Stoffel Duvenhage, Divan Kotze, Brad Mockford, Bennie Adams, Theo van Wyk, Joubert Engelbrecht, SP Marais.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24