Jong Bokkies bly langer by Bulle
2012-09-03 12:20
Kaapstad – Die Blou Bulle maatskappy het Maandag in 'n verklaring onthul dat Wiaan Liebenberg en William Small-Smith albei hul kontrakte met die Ligbloues hernu het.
Liebenberg het die Jong Bokkies tydens die eindstryd van die onlangse Junior Wêreldbeker-toernooi tot ‘n geskiedkundige sege aangevoer, terwyl sy adjudant, Small-Smith, die o.20-span teen Engeland gelei het.
Small-Smith was ook die Jong Bokkies se kaptein in die kwarteindstryd teen Argentinië, toe Liebenberg beseer was.
Liebenberg voer tans die Bulle se o.21-span aan terwyl Small-Smith besig is om van ‘n kniebesering, wat hy tydens die Junior Wêreldbeker opgedoen het, te herstel.
“Dit is fantastiese nuus,”het die afrigter van die Bulls, Frans Ludeke, gesê.
“Wiaan en William is ervare leiers in hulle ouderdomsgroep en vir albei om hul loopbane by ons te wil voortsit, is ‘n besliste positiewe tree vorentoe vir ons en ons strewe om nie net kampioenspanne nie, maar ook kampioenmense op te lewer."
Liebenberg en Small-Smith het reeds senior rugby vir die Bulle gespeel nadat hulle vanjaar in die Vodacombeker-kompetisie vir die Ligbloues uitgedraf het.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24