John Smit uit vir drie maande
2010-09-23 07:43
Pretoria - John Smit se ongeluk kan Juan Smith se geluk word met dié Vrystater wat nou voor in die ry staan om die Springbok-rugbyspan in November na die Verenigde Koninkryk te lei.
Smit, Suid-Afrika en wêreldrugby se mees ervare toetskaptein, gaan dié toer misloop nadat hy Woensdag ’n nek-operasie ondergaan het om drukking op ’n nekwerwel te verlig.
Weens dié operasie sal Smit die volgende drie maande nie kan speel nie.
Sport24 het vroeër vandeesweek berig dat Smit die res van die Curriebeker-seisoen weens ’n seer nek sou misloop, maar dié besering is straks ernstiger as wat vermoed is.
Die Springbokke se spandokter, Craig Roberts, het gister in ’n mediaverklaring gesê dat Smit ’n geruime tyd buite aksie sal wees.
Smit se logiese opvolger as Bok-kaptein, Victor Matfield, gaan volgens Sport24 se inligting ook nie toer nie, wat Smith, wat die Cheetahs in die Curriebeker-reeks én in die Super14-reeks aanvoer, die binnebaan gee om die 54ste Springbok-kaptein te word.
Nóg ’n moontlike kandidaat, die Stormers-kaptein, Schalk Burger, gaan dalk ook nie toer nie.
Dié planne kan verander as die Bok-afrigter, Peter de Villiers, onder druk geplaas word oor sy wenrekord op sy vergadering met die land se rugbybase volgende week in Johannesburg.
As die breier onder druk is om al sy wedstryde – teen Ierland, Wallis, Skotland en Engeland – te wen, gaan De Villiers waarskynlik al sy groot kanonne kies.
Kry hy wel goedkeuring om sleutelspelers te laat rus, kan Smith ’n span met senior spelers én nuweling-Bokke oorsee neem.
Roberts het in sy verklaring aangedui dat die besering nie Smit se loopbaan bedreig nie.
“Dit was wel nodig om nou die probleem reg te stel sodat hy volgende seisoen vir die Sharks en die Springbokke kan speel,” het Roberts gesê.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24