John Mitchell terug in sy pos
2012-11-08 13:38
Kaapstad – John Mitchell sal Vrydag as breier van die Goue Leeus op Coca-Colapark aanmeld nadat hy op verskeie klagtes van wangedrag onskuldig bevind is, het die Nieu-Seelander se prokureur, Brian Patterson van Edwards Nathan Sonnenbergs, gesê.
Patterson het Donderdag bevestig dat die Goue Leeus rugbyunie (GLRU) uiteindelik die volledige bevindings en voorstelle van die tugvoorsitter Peter Bam vrygestel het nadat die franchise aanvanklik nie bereid was om die besonderhede aan Mitchell se regspan bekend te maak nie.
Hy het egter bygevoeg dat daar op die stadium geen verdere kommentaar gelewer sal word nie weens regsredes.
"John is verheug oor die uitkoms van die ondersoek en voel dat sy posisie en reputasie as 'n internasionale afrigter ten volle geregverdig is," het sy agentskap, die Fordham-maatskappy, gesê.
“John is bereid om saam met die GLRU te werk om sekere kwessies te help oplos," het Patterson gesê.
Die agentskap se uitvoerende hoof, John Fordham, het bygevoeg dat Mitchell se regspan en prokureurs van die GLRU besig is met onderhandelings om sekere onderliggende kwessies, wat tot die klagtes gelei het, op te los en om Mitchell se toekoms by die klub te bespreek.
“John is toegewyd om in Suid-Afrika te bly as afrigter van die Goue Leeus en hy sien baie daarna uit om Vrydag na sy klub terug te keer," het Fordham gesê.
Lees verder.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24