Jantjes se ware toets
2010-07-09 07:33
Bloemfontein - ’n Vriendskaplike stryd teen die Griffons is een ding, maar ’n klipharde Curriebeker-rugbywedstryd teen die Vrystaatse Cheetahs in Bloemfontein iets heeltemal anders.
Conrad Jantjes sal ná Saterdag se kragmeting in die Rosestad weet presies waar hy staan.
Die Springbok-heelagter was die afgelope 14 maande in ’n fisieke, emosionele én sielkundige stryd gewikkel nadat hy sy regterbeen sleg in verlede jaar se Super14-wedstryd teen die Chiefs op Nuweland gebreek het.
“Net om ’n terugkeer te maak, was vir my ’n groot prestasie. Dis waarom ek nog glad nie gedink het aan iets soos om weer vir die Springbokke te speel nie,” sê Jantjes.
“Ek moes myself letterlik weer leer om te loop en daarna begin draf. As jy deur so iets gaan, kyk jy nie ver in die toekoms nie. Jy leef vir die oomblik.”
Jantjes is terselfdertyd opgewonde en senuagtig oor die groot oomblik in Bloemfontein.
Die Vrystaters is ’n span wat takties goed skop en daar sal geen genade vir Jantjes wees net omdat hy van ’n ernstige besering herstel het nie.
“Ek verkies dit eintlik so,” sê hy oor die moontlikheid dat die Cheetahs hom met ’n paar skoppe sal toets.
“Verlede week teen die Griffons wou ek my hande so vroeg moontlik op die bal kry. Jy kan honderd keer gedurende ’n oefening geduik word, maar niks vergelyk met die intensiteit van ’n mededingende wedstrydsituasie nie.”
Dis ook altyd fisiek teen die Cheetahs en as Jantjes môre se toets slaag, sal dit hom met baie selfvertroue vir die onmiddellike toekoms toerus.
“Verlede Vrydag se wedstryd is deur die voorspelers oorheers en ek het nie veel gehad om te doen nie. Daar is nie veel met die bal gehardloop nie.”
Voorlangs is al waar die WP ’n mate van kontinuïteit het van die Stormers se Super14-veldtog, met vyf van die spelers wat die Super14-eindstryd teen die Bulls begin het steeds daar.
Desondanks die ontwrigting van nege spelers in die Springbok-groep, is die Streeptruie ook oorgehaal om op die welslae van die laaste jaar te bou.
Hoewel ’n trofee die Kapenaars nog ontwyk, dui verlede jaar se Curriebeker-veldtog en vanjaar se Super14-reeks op ’n noemenswaardige oplewing.
“Die personeel het verander, maar die kultuur is geskep,” sê Jantjes.
“Dis egter nou ons eerste wedstryd in die Curriebeker. Ek wil dit nie eintlik sê nie, want dis ’n lelike cliché, maar dis werklik net ’n geval van wedstryd vir wedstryd!”
So ook vir Jantjes, wat in die hospitaal geleer het om nie die toekoms vooruit te loop nie.
“Die Dinsdag nadat ek my been gebreek het, was daar ’n 12-jarige seun in die hospitaal wat my wou ontmoet.
Hy was ’n kanker-pasiënt. Dit het my geleer dat selfbejammering nie ’n opsie is nie.
Jy kan nie te ver vir die toekoms beplan nie, want jy weet eenvoudig nie wat volgende gaan gebeur nie.”
Afskoptyd Saterdag in Bloemfontein is 17:00.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24