Jaagtog bring Arende toe niks in sak
2010-11-01 08:54
George - Hoewel die SWD-Arende dit nie as ’n verskoning aanbied nie, kan dit straks die kleur van hul rugbykouse wees wat hulle nóg ’n jaar in die Eerste Liga van die Curriebeker-reeks ingedwing het.
Die Arende het Vrydag hul tweede promosie/relegasie-wedstryd hier teen die Luiperds met 32-28 gewen, maar ’n enkele bonuspunt vir ’n punteverskil van minder as sewe punte het die Luiperds in die Premierliga gehou. Albei spanne het op ses ligapunte geëindig, maar die Luiperds het na dese ’n beter netto-punteverskil gehad.
Dít nadat hulle twee naweke gelede in Potchefstroom die Arende met 37-22 geklop het.
Maar dit is in daardie studentedorp wat die kleur van die Arende se kouse hulle in die eerste helfte gepootjie het.
Die Suid-Kapenaars was met rustyd 5-23 agter en het eers in die tweede helfte gelyk na die span wat bo-aan die puntelys van die Eerste Liga geëindig het.
Vertel hul afrigter, Johann Lerm: “Man, baie kort voordat ons moes opdraf, het die skeidsregter (Craig Joubert) gesê ons truie lyk darem nie te veel dieselfde nie, maar dat ons broeke en kouse verwarring kan skep.
“Ons het nie ander kouse gehad nie en Gilbert het vir ons net twee stelle truie gegee, wat albei groen is. Die Luiperds het geweier om hul rooi truie pleks van die groenes aan te trek.
“Ons moes inderhaas dorp toe jaag om kouse en broeke te koop. Daar was nie tyd om ’n spanpraatjie te hou of enigiets nie. Nadat die TV-regisseur gesê het ons moet gou maak en toe ons moes opdraf, was van die ouens nog besig om aan te trek. Sulke ligblou kouse.”
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24