Huldeblyke stroom in vir Louis Luyt
2013-02-01 15:32
Johannesburg – Die Goue Leeus rugbyunie (GLRU) het dr. Louis Luyt as die dryfkrag agter rugby in Suid-Afrika beskryf tydens sy tyd as administrateur.
Saru het bevestig dat dr. Luyt Vrydag in die ouderdom van 80 jaar by 'n hospitaal in Durban oorlede is.
Die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Pieter Mulder, het in 'n verklaring gesê Luyt het ‘n reuserol in Suid-Afrikaanse rugby gespeel tydens die belangrike oorgangstydperk na 1994.
"Hy het veral nooit die nodige erkenning gekry vir sy belangrike bydrae tot die groot sukses van die Wêreldbeker-toernooi in 1995 nie," het Mulder gesê.
"Dr. Luyt was altyd 'n wonderlike mentor vir die meeste van ons wat by die sport betrokke was," het Kevin de Klerk, president van die Goue Leeus rugbyunie (GLRU), gesê.
Luyt is in 1989 as die president van die Transvaalse rugbyunie aangestel en het later as president van die Suid-Afrikaanse Rugbyvoetbalunie (Sarfu) gedien.
"Ek wil graag my innige meegevoel met Doc Luyt se liewe vrou en kinders namens myself en die GLRU uitspreek," het De Klerk bygevoeg.
"Hy het dié unie altyd as sy rugbytuiste beskou en ons betreur sy heengaan."
Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, het in 'n verklaring gesê: "Ons sal nooit die ongelooflike prentjie vergeet van die Springbokke, met hom aan die voorpunt, wat die Wêreldbeker in 1995 gewen het nie."
Holomisa sê hy het saam met Luyt gewerk toe die UDM in die laat 1990's gestig is.
Luyt is op 18 Junie 1932 in Britstown in die Noord-Kaap gebore.
Hy was met Adri getroud en die egpaar het vier kinders.
Volg Nuus24 op Twitter.
- SAPA