Hougaard se skopskoen nie genoeg vir Saracens
2009-11-28 09:02
Londen - Die Saracens-rugbyspan se oorwinningslopie het Vrydag tot 'n stilstand geruk met 'n 12-12 gelykoptelling teen die Warriors in die Engelse premierliga.
Warriors-losskakel Willie Walker het drie strafskoppe uit drie geleenthede in die eerste helfte tussen die pale deurgepos. Sy span was teen halftyd 9-3 voor.
Walker het nog 'n strafskop in die tweede helfte oorgesit en so al 12 punte vir sy span ingebring.
Die Suid-Afrikaanse losskakel Derick Hougaard, wie se skopskoen onlangs die Springbokke laat buig het in hul wedstryd teen Saracens, het sy span in die wedstryd gehou.
Dit was egter nie genoeg om 'n oorwinning te beklink nie.
Die gelykoptelling beteken wel dat Saracens bo aan die punteleer sal bly, 'n gemaklike sewe punte bo die tweede span, Northampton.
- Sapa-AFP