Honderde groet Juan se ‘John Deere-pa’
2010-04-14 06:10
Karen Ebersohn, Beeld
Hy was ’n John Deere-pa en ’n stoommasjien van ’n man.
Só is Giel Smith (55), die pa van Juan Smith, Springbok-flank en die Cheetah-rugbyspan se kaptein, gister in ’n roerende huldeblyk beskryf.
Honderde begrafnisgangers, onder wie familie, vriende en spanmaats van Juan, het gister die roudiens by die Baptiste-kerk in Langenhovenpark in Bloemfontein bygewoon.
Smith sr. is verlede Donderdag in die Universitas-hospitaal aan komplikasies weens slenkdalkoors dood.
Past. Pieter Kuhn het met die lees van Psalms 23 en 121 vertroosting en perspektief aan die droewige familielede gebring.
“Onthou die mens se verlies is God se wins en Giel het nou sy aardse huis vir ’n permanente huis verruil.”
Kuhn het aan Smith sr. se vrou, Dorie, gesê hy (Kuhn) sal altyd aan haar man dink as iemand wat ’n mooi verhouding met God gehad het.
“’n Mens het ook nooit geweet wat skuil onder daai groot glimlag van hom nie. Hy het ook besonderse hande gehad.
“As Giel jou hand gevat het, kon jy die veiligheid daarin voel.”
Kuhn het gesê hy is vas oortuig daarvan dat indien Smith sr. gister self ’n boodskap aan die begrafnisgangers kon bring, sou dit gewees het in die woorde van Psalm 121.
“Ek slaan my oë op na die berge en weet my hulp kom van die Here af. Die Here sluimer nooit in nie of slaap nie.”
Die geharde rugbyflank moes voortdurend strome trane van sy wange afvee en het kop onderstebo aan die kis help dra.
Juan gaan hom nie vir die oorblywende twee wedstryde in Christchurch of Hamilton by sy spanmaats aansluit nie.
Hy sal weer op 1 Mei in Bloemfontein teen die Blues vir sy span uitdraf.
-Beeld