Heyneke: 'JP se besering reuse-terugslag'
2012-08-07 17:13
Kaapstad – Die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, sê JP Pietersen se besering, kort voor die Rugbykampioenskap, is ‘n reuse-terugslag vir die span.
Pietersen het sy duim gebreek in die Super-rugbyeindstryd teen die Chiefs en sal vir die volgende twee maande buite aksie wees.
Meyer sê Pietersen gaan moeilik wees om te vervang as mens sy “uitstekende” spelpeil vanjaar in gedagte hou. Pietersen het vanjaar skittervertonings gelewer vir die Sharks en die Bokke.
“Ek is op die oomblik bietjie op my senuwees omdat JP nie gaan speel nie,” het Meyer gesê.
“Hy was uitstekend vanjaar vir die Sharks en vir ons teen Engeland ook. Dit is ‘n reuse-terugslag vir die Springbokke.”
Die Springbokke se spandokter, Craig Roberts, het bevestig dat Pietersen sy duim gebreek het en dat hy ‘n operasie moet ondergaan.
“JP sal Woensdag geopereer word, en die rehabilitasie van so ‘n operasie neem sowat ses tot agt weke,” het Roberts gesê.
Juan de Jongh is in die plek van Pietersen opgeroep.
“Ons het besluit om vir Juan op te roep om bietjie meer senters in die groep te hê. Dit is ‘n area waar ons bietjie te kort aan spelers het noudat JP beseer is,” het Meyer bygevoeg.
“Ons het ook gedink dat iemand soos Francois Hougaard en JJ Engelbrecht vleuel kan speel as die nood druk, veral met Bjorn Basson wat vir die volgende ses weke op die krukkelys is.”
Daar was nog slegte nuus uit die Bok-kamp.
Die Stormers-slot Eben Etzebeth het die kraakbeen in sy heup beskadig en gaan Dinsdag ‘n spesialis in Johannesburg besoek.
Roberts het gesê hy weet nie wat Etzebeth se toetse inhou nie.
Meyer het verras met die aankondiging dat hy dit oorweeg om Bakkies Botha op te roep. Botha speel tans sy rugby in Frankryk.
“Hierdie beserings is groot terugslae en siende dat van ons beste spelers oorsee speel, gaan dit moeilik wees om plaasvervangers te kry,” het Meyer gesê.
“Daar is baie karakter in die Bok-groep en ek glo dit is ‘n goeie groep van hoë gehalte.”
Die Springbokke begin hul aanslag op die Rugbykampioenskap op 18 Augustus teen Argentinië op Nuweland.
– Volg Nuus24Sport op Twitter
- SAPA