Henry gaan Engelse nie help
2011-11-23 09:36
Cardiff. – Graham Henry, die man wat die All Blacks verlede maand tot Wêreldbeker-glorie op eie bodem gebrei het, sê gerugte dat hy by Martin Johnson as Engeland se rugby-afrigter gaan oorneem, is “onrealisties”.
Dié 65-jarige afrigter, wat Nieu-Seeland agt jaar lank afgerig het voordat die All Blacks die William Webb Ellis-beker die eerste keer sedert 1987 kon verower, het sulke gissinge vandeesweek in die kiem gesmoor.
“Dis nie realisties,” het hy aan BBC Wales gesê oor die gerugte dat hy moontlik Johnson kan vervang.
“Ek woon in Nieu-Seeland. Maar ek sal graag by ’n Europese klub betrokke wil raak en ’n verskil probeer maak.”
Daar word al ’n geruime tyd bespiegel dat die Cardiff Blues, sowel as die Engelse Rugbyunie (RFU), Henry in ’n konsultasie-hoedanigheid wil betrek.
“Daar is baie dinge wat ek wil doen. Ek sal graag tyd in Europa wil deurbring.
Dis skaars vier weke ná die Wêreldbeker en ek het in dié stadium nog nie baie daaraan gedink nie,” sê hy.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24