Hansen klap straks sweep by All Blacks
2011-12-15 07:31
Pretoria. – Steve Hansen sal na verwagting Vrydag as die nuwe afrigter van die All Blacks in die plek van Graham Henry aangewys word.
Henry het die tuig ná die Wêreldbeker-toernooi neergelê nadat hy die All Blacks gehelp het om die Webb Ellis-beker ’n tweede keer te wen.
Hansen was een van twee hulpafrigters in Henry se span en is die groot gunsteling om nou die rol van hoofafrigter oor te neem, veral omdat die ander adjudant, Wayne Smith, aangedui het hy is nie beskikbaar nie.
Smith word met ’n moontlike rol in Engeland verbind.
Die Nieu-Seelandse Rugbyunie het ná die Wêreldbeker-eindstryd tuis in Oktober ’n kortlys saamgestel, ’n handvol afrigters vir onderhoude genooi en sal nou sy keuse aan die res van die land bekend maak.
Hansen, wat Wallis in 2002 en 2003 afgerig en ook die Nieu-Seelandse provinsiale kampioenskapstoernooi drie keer agtereenvolgens as Canterbury-afrigter gewen het, is openlik deur Henry ondersteun.
Henry meen kontinuïteit is belangriker as ander oorwegings in dié verband.
’n Voormalige Chiefs-afrigter, Ian Foster, en Aussie McLean, wat Samoa gedurende die Wêreldbeker-toernooi help afrig het, is die gunstelinge om as sy adjudante aangewys te word.
Mick Byrne behoort as vaardigheidsafrigter aan te bly.
Daar is egter ’n gevoel onder sekere rugbykenners in Nieu-Seeland dat Vern Cotter, wat die Franse klubspan Clermont afrig, betrek moet word, terwyl Joe Schmidt, wat Leinster slyp, ook sterk steun geniet.
Cotter en Schmidt het boonop vroeër Bay of Plenty saam afgerig, maar Cotter het reeds aangedui dat hy nie ’n adjudant wil wees nie.
Afrigters soos Todd Blackadder, Jamie Joseph en Pat Lam het almal vroeër nee gesê vir die pos en hul aansprake behoort oor vier jaar veel sterker te wees. Hulle wil hul tande in Super-rugby slyp.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg