Habana verleng WP-kontrak
2011-10-17 10:58
Johannesburg – Die Springbok-vleuel Bryan Habana sal vir die volgende drie jaar nog sy rugby in die Kaap speel nadat hy sy kontrak met die WP verleng het, het die SuperSport-joernalis Brenden Nel Maandag berig.
Habana, wat verlede week met die Kobe Steelers in Japan verbind is, het blykbaar besluit om vir minder geld as sy vorige WP-kontrak in Kaapstad te bly en te fokus op die Stormers se Super Rugby-veldtog.
Dit beteken dat hy steeds 'n aanspraakmaker op die Springbok-trui kan wees, alhoewel die Bulle se veelsydige agterspeler Francois Hougaard hard in sy nek blaas.
Habana se agent Craig Livingstone het aan SuperSport.com bevestig dat sy kliënt 'n kontrak met WP onderteken het.
Terwyl Jaque Fourie ook deur die Kobe Steelers gelok word, is daar nog geen besluit oor dié Springbok-senter se toekoms gemaak nie.
Habana het op sy Twitter-profiel beweringe, wat in Japan onstaan het, as onsin afgemaak.
"Het gister gehoor dat ek in samesprekings met klubs in Japan is??!??. Dit is die eerste wat ek daarvan hoor," het hy oor die aangeleentheid getweet.
"Ongelooflik hoe sommige joernaliste soveel nonsens kan skryf vir sensasie en dan nooit verskoning vra of hul foute regmaak nie."
Sy verlengde kontrak begin aan die einde van vanjaar se Curriebeker-reeks.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24