Habana uit, Mvovo op vleuel vir Bokke
2010-11-17 08:00
Edinburg - Die Springbok-rugbyspan het Dinsdag nóg ’n opstopper teen die kennebak gekry toe Bryan Habana gisteroggend sy linkerhand in ’n oefening hier by die Peffermill-sportvelde gebreek het.
Habana het sleg geval nadat hy Morné Steyn in ’n verdediging-sessie geduik het en X-straalfoto’s gistermiddag het die slegte nuus bevestig.
Hy sal na Suid-Afrika terugkeer, met Lwazi Mvovo wat Saterdag teen Skotland op Murrayfield sy toetsbuiging as linkervleuel sal maak.
Ofskoon die Bokke 68 toetse se ervaring inboet, het Habana verlede week nog ’n swak toets teen Wallis beleef.
Daar sal natuurlik ook opgewondenheid oor Mvovo se buiging wees. Sy 12 drieë vir die Haaie in vanjaar se Curriebeker-reeks was die tweede meeste in die toernooi.
Die Bok-breier, Peter de Villiers, het ook met die verrassende skuif vorendag gekom om Ryan Kankowski in Pierre Spies se plek op agtsteman te kies.
Spies is as die speler van die wedstryd in Suid-Afrika se sege van 29-25 oor Wallis aangewys. Met Bjorn Basson nie beskikbaar nie, skuif Gio Aplon regtervleuel toe en sal Zane Kirchner heelagter speel.
Francois Hougaard is op skrumskakel in Ruan Pienaar se plek gekies, maar Patrick Lambie sal eers nog vir ’n kans in die beginspan moet wag, met De Villiers wat besluit het om met Steyn op losskakel te volhard.
Adriaan Strauss sal in Chiliboy Ralepelle se plek die reserwe-haker wees.
De Villiers het verduidelik dat Spies ’n blaaskans kry en dat dit terselfdertyd ’n kans is om te sien hoe Kankowski inpas.
“Toere aan die einde van die jaar word dikwels as ’n las beskou, maar hierdie een is vir ons ’n geleentheid met die toekoms in gedagte.Ons moet sien hoe sekere spelers by die span inpas en dit kan jy net op die veld uitvind,” het De Villiers gesê.
“Ryan het al ’n paar keer vir ons gespeel.Ons het vertroue in Pierre en wil hom laat rus.
“Daar is ’n Wêreldbeker-toernooi volgende jaar en ons moet ’n groep van 30 spelers neem. Jy sal dom wees as jy dink 15 of 22 spelers gaan vir jou die toernooi wen. Jy moet werk aan ’n groep van 30. Ek gebruik daarom die kans wat hierdie toer my bied en al die spelers op toer sal ’n geleentheid kry.
”Volgens De Villiers het Hougaard weer sy slag gewys toe hy teen Wallis as plaasvervanger vir Pienaar opgekom het.
Die Bok-breier het ook daarop gewys dat Skotland met die nodige agting benader sal word, al het die tuisspan sleg teen Nieu-Seeland verloor.
“Skotland het baie kanse geskep en die All Blacks onder druk geplaas, maar kon dit nie in punte omskep nie.
“Ons het in die Sesnasies-reeks en op hul toer na Argentinië gesien dat Skotland ’n goeie internasionale span is,” het De Villiers gesê.
“As ons dink dis net ’n kwessie van opdaag, sal dit selfmoord wees.”
Vir oorgerustheid is daar ook nie plek in die Bokke se benadering nie.
“Enige speler wat Suid-Afrika verteenwoordig en dink hy kan op sy louere rus, is by die verkeerde plek. Dis jou toekoms, werk en roeping wat op die spel is.
Ek glo nie ons spelers sal ooit die fout begaan om enige teenstander te onderskat nie.”
Springbok-span:
Zane Kirchner (12 toetse), Gio Aplon (11), Frans Steyn (40), Jean de Villiers (65), Lwazi Mvovo (0), Morné Steyn (23), Francois Hougaard (6), Ryan Kankowski (16), Juan Smith (67), Deon Stegmann (2), Victor Matfield (k, 103), Bakkies Botha (70), Jannie du Plessis (22), Bismarck du Plessis (34), Tendai Mtawarira (24).
PLAASVERVANGERS: Adriaan Strauss (7), CJ van der Linde (67), Flip van der Merwe (8), Willem Alberts (1), Ruan Pienaar (45), Patrick Lambie (2), Adi Jacobs (30).
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24