Habana in Twitter-onderonsie
2010-11-10 09:02
Cardiff – Hy het die gevaarlikste mond in wêreldrugby, maar Peter de Villiers blyk vir eers sy les te geleer het oor wanneer en waar om dit oop te maak.
Dinsdag wou die afrigter van die Springbok-rugbyspan niks weet toe ’n Walliese joernalis hom probeer uitlok het om kommentaar te lewer oor die trae kaartjieverkope vir Saterdag se toets in die Millennium-stadion nie.
“As jy in my skoene was vir die afgelope drie maande en jy dink daar’s in dié kop plek vir enigiets anders as rugby, maak jy ’n fout,” het De Villiers gister met ’n breë glimlag op die aankondiging van die Bok-span gesê.
“Ek fokus nou op rugby ... en nét rugby. As die span goed kan speel en wen, het ek alles bereik wat ek wil. Dis altyd goed om voor ’n groot skare te speel, maar 50 mense kan ook ’n groot geraas maak. Ek hoop maar net helfte van die mense wat Saterdag daar is, dra groen truie!”
Met De Villiers wat selfsensuur toepas, is die toer se eerste storm in ’n teekoppie deur die Bok-vleuel Bryan Habana op Twitter ontketen.
Habana het hom vererg vir ’n rugbygeesdriftige wat vir hom gesê het dis “tyd om uit te tree, my vriend”.
“Neem eerder jou negatiwiteit elders. En ek’s nie jou vriend nie!” het Habana aan ene “burgertmull” geantwoord.
Habana het dadelik steun uit die krieketgemeenskap gekry.
“Sulke ouens moet gebliksem word,” het die Proteas se mokerman Albie Morkel getweet.
Die Bokke se woordvoerder, Andy Colquhoun, het in reaksie aan Sport24 gesê Habana het nie die span se reëls verbreek nie en die woordewisseling word nie as ’n probleem beskou nie.
“Daar is riglyne oor interaksie op sosiale mediaplatforms en dit kom daarop neer dat spelers nie die spel in oneer moet bring nie. Hy het niks aanstootlik kwytgeraak nie,” het Colquhoun gesê.
Intussen het De Villiers gister net een verandering aangebring aan die span wat verlede week teen Ierland uitgedraf het. Frans Steyn is op buitesenter in Zane Kirchner se plek ingesluit.
Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg.
- Sport24