Habana bring nuwe ywer vir Bulle
2009-09-30 07:03
J.J. Harmse
Pretoria - Daar was ’n handslanery, breë glimlagte en nuwe ywer in die Bulle se kraal toe Bryan Habana hom by die span aangesluit het ter voorbereiding vir sy wedstryd Saterdag teen Griekwas op Loftus Versfeld.
Habana is pas terug van sy wittebrood en het gister saam met sy spanmaats geoefen vir dié Curriebeker-rugbywedstryd wat die Bulle tot die derde plek op die puntelys kan laat opskuif.
Habana was vol geesdrif en grappies en het hard gewerk in ’n sessie waar die bloed gespat het toe Jaco Engels en Dewald Potgieter in mekaar vasgehardloop het.
Potgieter, wat juis Saterdag die veld teen die Cheetahs weens ’n snywond aan die kop moes verlaat, het weer tweede gekom en dit het nóg werk vir die spandokter, Org Strauss, beteken.
Strauss het intussen bevestig dat Chiliboy Ralepelle nie vir die volgende twee wedstryde oorweeg word nie nadat ’n stresfraktuur in sy voet gediagnoseer is.
Hy behoort wel vir die halfeindronde fiks te wees.
Die Bulle het steeds vir Bandise Maku en Derick Kuün as hakers en laasgenoemde behoort weer die nr.?2-trui teen Griekwas te dra.
Daar is ’n moontlikheid dat Gary Botha volgende naweek teen die Luiperds weer die eerste keer sedert 2007 vir die Bulle kan uitdraf. Botha, wat sedertdien vir die Engelse span Harlequins gespeel het, sal volgende week na Suid-Afrika terugkeer.
Hoewel ’n kontrak met die Bulle nog nie onderteken is nie, is alle aanduidings dat hy weer sy rugby in die Jakaradastad gaan speel.
Hy kan dus volgende naweek in aksie wees, sou hy gekies word, maar sal nie kwalifiseer om in die halfeindronde en eindstryd van die Curriebeker -reeks te speel nie.
Dieselfde geld Ross Geldenhuys.
Die Leeus het hom verlede week tot aan die einde van die reeks aan die Bulle geleen.
Die stut sal waarskynlik sowat 20 minute teen Griekwas speel en ’n uur teen die Luiperds, maar kan nie daarna oorweeg word nie. Sy teenwoordigheid sal nogtans vir Werner Kruger ’n kans gee om sy batterye te herlaai.
“Werner speel nog onophoudelik sedert die Super14 en het boonop een of twee ligte beserings.
“Hy sal beslis die ruskansie waardeer,” het die Bulle se afrigter, Frans Ludeke, gesê. Die breier was ook in sy skik met Habana se terugkeer. “Hoe kan jy nie wees nie? Bryan is ’n wêreldklas-speler en ’n uitstekende spanman. Hy bring energie na enige span en kom net op die regte tyd by ons aan.”
- Beeld