Habana bevestig ooreenkoms met Toulon
2013-01-11 12:14
Kaapstad – Die Sprinbokvleuel Bryan Habana het bevestig dat hy ‘n ooreenkoms met die Franse klub Toulon bereik het om vanjaar ná die Superrugby-reeks by hulle aan te sluit.
Habana het ‘n drie-jaar-ooreenkoms met die klub gesluit.
“Ek wil almal by die WP bedank vir hulle ondersteuning gedurende my tyd in Kaapstad,” het Habana Vrydag gesê.
“Ek het drie goeie seisoene in die Kaap gehad en ek sien uit daarna om op ‘n hoë noot af te sluit voor ek die nuwe uitdaging oorsee aanpak.”
Rob Wagner, uitvoerende hoof van WP Rugby, het Habana vir sy diens in die Kaap bedank.
“So hartseer soos dit is om te weet dat Bryan ons ná die Superrugby-seisoen gaan verlaat, doen hy dit met ons goedkeuring en ons wil hom graag bedank vir sy bydrae tot die WP en die Stormers oor die afgelope drie jaar,” het Wagner gesê.
Habana, wat al 83 keer vir die Springbokke uitgedraf het, het dit duidelik gemaak dat hy steeds vir die Springbokke beskikbaar sal wees indien hy gekies word, het die Stormers se webtuiste berig.
“Om vir die Bokke te speel is ‘n groot deel van my lewe en ek sal nooit my rug op my land draai nie.”
– Lees hier meer.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.