Haaie wil meer as net wen, sê Hugh
2011-10-26 07:03
Johannesburg – Die Haaie wil nie net ’n wenspan wees nie, maar ’n kampioenspan, sê Hugh Reece-Edwards, die eertydse heelagter van die Piesangboere en deesdae een van die hulpafrigters.
“Toe ek my twee jaar gelede weer by die afrigtingspan aangesluit het, het ons die kultuur van Haaie-rugby bespreek. Ons het tot die gevolgtrekking gekom dat ons in wese ’n wenspan is omdat ons meer wen as verloor, maar nog nie ’n kampioenspan nie.
“Dit is ons strewe om in ’n ware kampioenspan te ontwikkel en die meeste reekse te wen waarin ons speel,” het hy gesê.
Saterdag hier in die Leeukuil het die Haaie die kans om die tweede agtereenvolgende jaar die Curriebeker te verower en sodoende ’n groot tree nader aan daardie strewe van ’n kampioenspan te gee.
Hy glo die Haaie moet daarteen waak om oorgerus te wees teen ’n span wat hy twee weke gelede met bykans 50 punte geklop het.
“Ons het seker die beste span op papier, maar dit beteken niks as al jou spelers nie reg ingestel is en op die dag met oorgawe speel nie. Wat in die Leeus se guns tel, is dat hulle nog die hele seisoen met dieselfde groep spelers speel en ’n eenheid is. Ons was nie regtig ’n eenheid in die halfeindstryd teen die Cheetahs nie en dit moet reggestel word vir die eindstryd.
“Vir die Leeus is dit ’n groot geleentheid om ’n eindstryd aan te bied en hulle sal beslis nie ’n tekort aan motivering hê nie.
“Vir ons sal ’n oorwinning ’n bousteen wees in ons doelwit om ’n ware kampioenspan te word,” sê Reece-Edwards. Hy glo ook die Leeus se afrigter, John Mitchell, sal die groot nederlaag twee weke gelede in Durban gebruik om sy spelers te motiveer.
“Verlede jaar het ons ook net voor die eindstryd teen die Westelike Provinsie in Kaapstad verloor en hulle in die eindstryd geklop. Die span wat ’n vorige wedstryd verloor het, onthou dit en dit maak hulle meer vasbeslote om daarvoor te vergoed."
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg