Haaie wéér in CB-eindstryd
2011-10-22 16:45
Anja Carstens
Durban – Die Haaie speel vir die tweede agtereenvolgende jaar in die Curriebeker-eindstryd nadat hulle die Vrystaat-Cheetahs Saterdag op Kingspark in Durban geklop het.
Die eindtelling was 20-13 nadat die Vrystaters rustyd 13-3 voorgeloop het.
In die eerste helfte het die Haaie hulle teen 'n begeesterde Vrystaat-span vasgeloop. En dit wou voorkom asof swak skopwerk (slegs twee van die ses strafskoppe was suksesvol) eindelik die Durbaniete se ondergang sou wees.
Maar in die tweede helfte is die Haaie vir hul geduld en kragspel beloon toe die stut Beast Mtawarira en tien minute later Odwa Ndungane, agter die doellyn gaan druk het.
Die Vrystaters het ook te veel met hul lynstane gesukkel en dissipline het in die tweede helfte begin lol.
As die Goue Leeus die WP in Johannesburg klop, sal die Haaie na Coca-Colapark moet reis vir die Curriebeker-eindstryd.
Maar as die Streeptruie wen, is die eindstryd in Durban.
Puntemakers:
Haaie:
Drieë: Beast Mtawarira, Odwa Ndungane Doelskoppe: Pat Lambie (2) Strafskoppe: Pat Lambie (2)
Cheetahs:
Drieë: Hennie Daniller Doelskoppe: Johann Goosen Strafskoppe: Goosen (2)
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24