Haaie teen res van SA– Plum
2011-10-26 10:01
Johannesburg. – Oor die afgelope ses jaar was dit telkens die tuisspan wat die Curriebeker in die eindstryd omhoog gehou het.
Daarom beskou John Plumtree, die Haaie se afrigter, dit as sy span se groot uitdaging om Saterdag hier op Coca-Colapark te verhinder dat die tuisspan weer vonkelwyn uit die Goue Beker drink.
“Vir ons gaan dit die uitdaging wees om die Curriebeker, wat in ons besit is, weg van die huis af in moeilike omstandighede suksesvol te verdedig,” het hy Maandag gesê.
Plumtree besef die Haaie staan alleen, want die res van die land is almal Leeus-ondersteuners. Die Leeus-rugbyspan is sonder twyfel die sentimentele gunsteling.
Aangesien die Leeus soveel maer jare beleef het, wil byna almal, behalwe die Haai-ondersteuners, hê hulle moet koning kraai.
Plumtree erken ook sy vriendskap met die Leeus-breier, John Mitchell, bly dié week op die agtergrond. “Nee, hierdie week is ons nie pêlle nie. Ons probeer albei om die ander een se neus in die grond te vryf.”
Dis die eerste keer in die geskiedenis van die Curriebeker-eindstryd dat twee Nieu-Seelanders die afrigters van die spanne is.
“Ons moet van die eerste oomblik af as ’n span saamspeel. Ons weet die Leeus sal dit doen, maar ek hoop net hierdie gaan ’n eindstryd wees van twee spanne wat elk as ’n eenheid funksioneer.
“Jy kan sien die ouens is reg ingestel om die beker te behou. Die Curriebeker is ons s’n en ons gaan hom nie net so afstaan nie. Ek besef met watter geweldige aanslag die Leeus gaan kom. Hulle sien hierdie as hul groot kans en is gretig vir sukses. Dis iets wat hulle nie ken nie en hulle wil dit proe.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24