Haaie se tande in Sonstad geslyp
2011-10-28 08:00
Johannesburg. – Die slot Alistair Hargreaves, wat op die plaasvervangersbank begin in die plek van Jacques Botes, is die enigste verandering aan die Haaie se 22-tal vir Saterdag se Curriebeker-eindstryd in die Leeukuil teen die Goue Leeus.
Dit is slegs die tweede keer in die huidige Curriebeker-seisoen dat die Haaie ’n onveranderde beginspan aankondig.
Hargreaves was die afgelope maand uit aksie met ’n rugbesering, maar met hom in die groep vermeerder dit die Haaie se lynstaanopsies.
Vir Botes, wat sedert 2006 amper ’n instelling in die Haaie se span geword het, moet dit verpletterende nuus wees dat hy glad nie betrokke gaan wees by die eindstryd nie.
Dit volg nadat hy deel was van al 15 wedstryde tot op hede in vanjaar se reeks. In verlede naweek se halfeindstryd teen die Cheetahs het hy net die laaste vier minute speelkans gekry – in sy 100ste wedstryd vir die Haaie.
Die Durbaniete het Donderdagoggend ’n stewige oefensessie by Sun City gehad en die middag het van die spelers gaan kyk of hulle nie leeus van ’n ander aard in die Pilanesberg-wildtuin te sien kon kry nie.
Van die ander spelers het gaan lyf natmaak by die Valley of the Waves. Die Haaie se groep het Donderdagaand rustig om die braaivleisvuur deurgebring.
“Ek is tevrede met hoe ons voorbereiding verloop en vir my is die groot ding dat ons behoorlik geakklimatiseer sal wees wanneer die eindstryd aanbreek,” het John Plumtree, die afrigter, gesê.
Hy en sy hulp-afrigter, Grant Bashford, sê die Haaie moet goed begin in die wedstryd en daarna dieselfde peil enduit handhaaf.
“Dit is ook goed om die senuwees te kalmeer as jy stewig begin en vinnig punte aanteken,” het Plumtree gesê.
Die Haaie het in hul laaste paar wedstryde hiermee gesukkel. Op enkele uitsonderings na het hulle ’n mens dié seisoen herinner aan ’n ou tjor op ’n koue winteroggend. Hulle het gesukkel om aan die gang te kom en het ’n hele paar keer eers in die tweede helfte daarin geslaag om die knoop deur te hak.
Bashford glo die wenner gaan grootliks bepaal word deur goeie dissipline en uitstekende verdediging.
Die Haaie se span is:
Patrick Lambie, Odwa Ndungane, Stefan Terblanche, Marius Joubert, JP Pietersen, Frederic Michalak, Conrad Hoffmann, Ryan Kankowski, Willem Alberts, Keegan Daniel (k), Ross Skeate, Jean Deysel, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis, Tendai Mtawarira.
PLAASVERVANGERS: Craig Burden, Eugene van Staden, Alistair Hargreaves, Marcell Coetzee, Ross Cronjé, Adrian Jacobs, Lwazi Mvovo.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24