Haaie se 'Sharkie' internasionaal vereer
2011-11-30 14:00
Durban – Sharkie, die gelukbringer van die Sharks- en Natalse Haaie, het 'n toekenning in Milaan, Italië, by die Internasionale FICTS-fees vir sport in rolprente en televisie ontvang.
Sharkie is vanjaar aan die animasie-wêreld bekendgestel toe hy 'n transformasie ondergaan het om 'n 3D-karakter vir televisie te word. In 'n 30 sekonde-advertensie is hy as 'n superheld van die 21ste eeu uitgebeeld.
Dié 19de jaarlikse toekenningsfees word deur FICTS (Federation Internationale Cinema Television Sportifs), 'n organisasie wat deur die Internasionale Olimpiese komitee (IOK) erken word, aangebied om "kultuur deur sport" te ontwikkel.
Sharkie het die “Mention D’Honneur”-toekenning onder die afdeling sportadvertensies ontvang.
Die Sharks se bemarkingsbestuurder, Mike Ablett, was verheug oor dié nuus. "Dit is fantasties dat 'n produk van ons handelsmerk internasionale erkenning ontvang in 'n hoogs kompeterende mark."
Vir meer inligting oor die toekennings, kliek hier.
Volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24