‘Haaie lak gans te veel’
2011-09-08 08:38
Johannesburg – John Plumtree, die afrigter van die Haaie se rugbyspan, verwag van sy span om Saterdagmiddag die regte benadering teen die Pumas in hul Curriebeker-wedstryd op Kingspark in Durban te openbaar.
“Ek het dit hierdie week by die spelers ingehamer dat hul ingesteldheid reg moet wees. Om moet agting toon aan ons teenstanders en ’n volwasse benadering hê.
“Al het ons die Blou Bulle op Loftus geklop, is ek nog nie tevrede met ons spel nie en soek ek nog steeds ná die soort vertonings wat weer van ons die Curriebeker-kampioene kan maak,” het Plumtree Woensdag gesê.
“Ons moes byvoorbeeld 208 duikslae teen die Bulle uitvoer, terwyl hulle net 70 moes maak. As ons nie daardie statistieke kan verbeter nie, gaan ons fisiek uitgeput wees aan die einde van die seisoen.
“Ons is glad nie so gestruktureerd en gedissiplineerd op die verdediging as wat ek wil hê nie en op die aanval skiet ons ook nog heelwat te kort,” sê Plumtree.
“Ons het heelwat ontwrigting gehad met spelers wat in en uit die span was en dit was moeilik om dit te bestuur. Hopelik kan ons van nou tot die einde van die seisoen hou by ’n kerngroep en dat dit nie sal nodig wees om rond te val met die spankeuse nie.
“Saterdag s’n is ook ’n tuiswedstryd en een wat gewen móét word. As jy wil seker maak van ’n halfeindstryd en ’n eindstryd tuis, moet jy ál jou tuiswedstryde wen, asook nog ’n paar weg van die huis af,” glo Plumtree.
- Intussen het die Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse, nie veel verander aan sy span wat Vrydag met ’n goeie vertoning in die tweede helfte byna ’n vroeë agterstand van die Goue Leeus uitgewis het nie, berig Pieter Jordaan.
Die enigste verandering is op binnesenter waar Tiaan Marx vir Tian Meyer vervang.
Die Pumas se span is:
MJ Mentz, Wilhelm Loock, JW Jonker, Tiaan Marx, Deon Scholtz, Coenie van Wyk, Shaun Venter, Doppies le Roux, Jaco Bouwer, Corné Steenkamp (k), Marius Coetzer, Rudi Mathee, Ashley Buys, Pellow van der Westhuizen, Dawie Steyn.
PLAASVERVANGERS: Torsten van Jaarsveld, Brett Nel, Boela Serfontein, JP Mostert, Hendrik van der Nest, Siviwe Magaba, Johan Jackson.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24