Haaie lag laaste
2011-10-23 08:05
Durban – Dit maak nie saak hoe jy begin nie, maar wel hoe jy eindig.
Dié ou rugbywaarheid het die Haaie weer Saterdagmiddag hier op Kingspark onderstreep, om die eindstryd van die Curriebeker-reeks te haal deur die Cheetahs met 20-13 te klop.
Dít kom nadat hulle ’n agterstand van 0-13 binne die eerste 25 minute moes uitwis en ook ’n rustyd-agterstand van 3-13.
Die Haaie se agttal het egter beheer geneem in die tweede helfte en die lewe uit die Bloemfonteiners gewurg. Daarmee het hulle ’n duidelike boodskap uitgestuur dat die span wat Saterdag die Curriebeker uit hul hande wil neem, eers verby dié makro-agttal moet kom.
Die eerste helfte sal so gou as moontlik deur die Haaie vergeet wil word. Hulle was onbeholpe verby en het die een fout ná die ander begaan.
Om sake te vererger, was die visiere pale toe windskeef ingestel. Nadat Patrick Lambie ’n strafskop vlak voor die pale regs gehaak het, het Frederic Michalak nóg twee maklike pogings verbrou voordat hy die veld verlaat het met ’n beenbesering.
Hy het teen sy spanmaat Stefan Terblanche vasgehardloop en albei het geruime tyd bly lê voordat hulle kon voortspeel. Die Fransman was egter maar baie mank daarna en is uiteindelik deur Lwazi Mvovo vervang.
In teenstelling met die Haaie, het die Cheetahs die enkele kanse wat hulle gekry het, aangegryp en die losskakel Johan Goosen het die telbord aan die gesels gekry in die 15de minuut ná ’n hoogvat deur Marius Joubert. ’n Onnodige oortreding deur Beast Mtawarira op Boom Prinsloo het aan Goosen die kans gegee om die voorsprong vanaf net binne sy eie halfgebied te rek.
Dié jong ondernemende losskakel van die Bloemfonteiners het ook ’n groot aandeel gehad in hul drie, toe hy sonder ’n verdediger naby hom deur ’n waenhuisdeur-gaping geglip het en die heelagter Hennie Daniller afgerond het.
Daar het ’n onnatuurlike stilte oor die Haaitenk uitgesak met die Cheetahs met 13-0 voor ná 24 minute.
Die angstigheid om aan die gang te kom, was amper tasbaar.
Die Haaie was daarna wél twee keer oor die doellyn, maar eers kon JP Pietersen nie die bal gedruk kry nie met dié dat hy op sy rug beland het, waarna die TV-skeidsregter Jerome Fortuin beslis het Willem Alberts het die bal verloor toe hy oor die doellyn is.
Die Haaie het die telbord-operateur eers vier minute voor rustyd die eerste keer werk gegee, toe Lambie met ’n strafskop geslaag het.
Die oormaat balbesit wat die Haaie geniet het en die feit dat hul agttal al hoe meer in die prentjie gekom het, het uiteindelik kort ná rustyd sy tol geëis toe Mtawarira oorgebeur het, met Joubert op sy skouer.
Met 26 minute se speeltyd oor het die Haaie die eerste keer die voortou geneem, toe Odwa Ndungane ná talle fases onder die pale gedruk het.
Tot in daardie stadium het die Cheetahs omtrent niks van die bal gesien ná rustyd nie en het die stadige gif van die Haaie se makro-agttal die Cheetahs lood in die voete laat kry.
Tot hul krediet het die Cheetahs bly veg en skielik meer van die bal te sien gekry. Hulle het die Haaie se verdediging beproef, maar dié het die toets deurstaan.
’n Lambie-strafdoel nadat die Haaie weer beheer geneem en groot druk uitgeoefen het met die osse voorlangs, was die doodskoot.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter
– Sport24