Haaie kou naels oor Alberts
2010-08-17 10:54
Johannesburg - Die Haaie sal die volgende paar dae naels kou oor die fiksheid van hul stoomroller-losvoorspeler Willem Alberts.
Daar is twyfel of hy die Westelike Provinsie Saterdag in Durban in ’n Curriebeker-rugbywedstryd sal kan pak. Dié stryd sal bepaal wie die eerste ronde bo-aan die puntelys afsluit.
Alberts, wat vanjaar indruk maak met sy stormlopies en die wyse waarop hy oor die voordeellyn kom deur teenstanders soos lastige vlieë uit die pad te stamp, het die skeen aan sy regterbeen beseer in Vrydagaand se sege oor die Luiperds in Phokeng.
X-straalfoto’s het gewys daar is nie ’n fraktuur nie en volgens die spandokter, Ewoudt van der Linde, sal verdere toetse gedoen word om die presiese aard van sy besering vas te stel.
Hy het nie Maandag saam met sy spanmaats geoefen nie en sal dalk eers Donderdag ’n kontaksessie hê.
Goeie nuus vir die Haaie is dat die Springbok-agtsteman Ryan Kankowski moontlik beskikbaar gestel sal word om teen die WP te speel.
Hy was ook die laaste paar weke uit aksie met ’n besering, maar is weer fiks en kan ’n sleutelspeler wees in die stryd tussen die twee voorlopers in die Curriebeker-reeks.
Die stut Eugene van Staden, die heelagter, Louis Ludik, en die losskakel, Patrick Lambie, het teen die Luiperds ook ligte beserings opgedoen, maar behoort almal teen Saterdag reg te wees.
John Plumtree, die Haaie se afrigter, sê hy is bly sy span kon dié keer ’n goeie vertoning teen ’n “groot” span, die Leeus, opvolg met ’n ewe indrukwekkende vertoning teen die Luiperds, een van die sogenaamde kleintjies.
“Nadat ons die Bulle vroeër in die seisoen geklop het, het ons die volgende week gesukkel teen die Pumas.
“Daarom wou ek gehad het dat ons dié keer ’n sege oor een van die grotes opvolg met nog ’n goeie vertoning teen ’n kleiner unie.
“Ons het goeie ritme op die verdediging gehad en die harde werk in die oefeninge het vrugte afgewerp.
“Ons het ’n paar woeste duikslae uitgevoer en dit was baie goed om te sien,” volgens die afrigter.
Veral Alberts het ’n paar keer hard onder van die Luiperds ingeseil en daarom sal Plumtree dié onverskrokke speler weer teen die Streeptruie in aksie wil sien.
Die een negatiewe aspek wat Plumtree vandeesweek onder die loep wil neem, is die groot aantal strafskoppe wat afgestaan is.
“Ons dissipline sal onberispelik moet wees teen die WP,” het hy gesê.
- Sport24