Haaie kan VS dubbel laat sien
2011-10-18 09:53
Durban – Twee van die Haaie se Springbokke, die slot Jean Deysel en die vleuel Lwazi Mvovo, moet vandeesweek eers fiksheidstoetse slaag voordat hulle in die groep ingesluit kan word vir Saterdag se Curriebeker-halfeindstryd teen die Cheetahs in Durban.
Deysel het sy rug beseer in die groot sege Saterdag oor die Leeus en Mvovo het sy heup beseer. Nóg ’n Springbok, wat soos Deysel eintlik ’n losvoorspeler is, Willem Alberts, kan as slot oorweeg word as Deysel nie betyds herstel nie.
Alberts het juis ná rustyd teen die Leeus as slot diens gedoen en indruk gemaak met sy kraglopies en sy vermoë om sy span oor die voordeellyn te neem.
Sou Deysel fiks verklaar word, kan Alberts as flank begin in die plek van Marcell Coetzee. Dié jongeling het hierdie seisoen uithalerspel gelewer en het teen die Leeus ’n goeie kombinasie saam met Ryan Kankowski en sy kaptein, Keegan Daniel, gevorm.
Kankowski het ’n uitstekende terugkeer tot die spel as agtsteman teen die Leeus gemaak.
’n Mens kan aanvaar dat die Du Plessis-broers, Bismarck en Jannie, teen die Cheetahs sal begin.
’n Ander Bok-stut, Tendai Mtawarira, was weens ’n besering nie beskikbaar teen die Leeus nie, maar sal vandeesweek saam met sy spanmaats oefen.
Agterlangs sal John Plumtree, die Haaie se afrigter, ook moet kopkrap, want met Patrick Lambie, Odwa Ndungane, Mvovo en JP Pietersen die kandidate vir die agterste driehoek, sal een van hulle op die plaasvervangersbank begin. Hy kan ook besluit om Lambie as binnesenter saam met Stefan Terblanche in die middelveld te kies en Marius Joubert weg te laat.
Lambie en Frederic Michalak langs mekaar kan die Cheetahs dubbel laat sien. Hulle is spelers met baie ondernemingsgees en doen soms die onverwagse.
Plumtree het gesê sy Wêreldbeker-Bokke is honger om sukses te behaal en noudat die Webb Ellis-beker nie meer vir hulle beskore is nie, fokus hulle op die Curriebeker. Die Haaie se Kiwi-breier het gesê hy het ’n braai by sy huis gehou om sy spelers weer as ’n eenheid saam te snoer ná die Bokke se terugkoms.
“Dit het my R1 000 uit die sak gejaag om hulle te voer, maar hopelik was dit die moeite werd en sal dié eenheid op die veld weerspieël word. Ek wil die fisiekheid wat daar teen die Leeus was ook teen die Cheetahs hê.”
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24