Haaie is heeltemal oordonder – Plumtree
2011-10-31 09:58
Johannesburg – Eina.
Hierdie is ’n loesing wat die Haaie nooit sien kom het nie.
Net soos daai outjie op sy bergfiets onlangs deur die bok vanuit nêrens uitgevat is, het die Leeus Saterdagaand hier die Curriebeker-kampioen met een verwoede sprong onttroon.
Hoe gebeur dit dat ’n rugbyspan wat sy teenstander met bykans 50 punte geklop het, skaars twee weke later só ’n drag slae kry teen dieselfde ouens?
“Dit is sport,” het John Plumtree, die Haaie se afrigter, skouerophalend gesê, met die bomskok wat soos Josh Strauss, Leeus-kaptein, se baard om hom gehang het.
Die Curriebeker is so oortuigend én bedrewe uit hul greep gepluk dat daar nie eens sprake van verskonings by die Haaie is nie.
“Ons is heeltemal oordonder deur ’n span wat met passie en toewyding gespeel het. Dit het eintlik nie gelyk of ons op dieselfde veld as hulle hoort nie,” het Plumtree toegegee.
Dit wys jou net wat die verskil is tussen ’n span wat veronderstel is om te kan wen, omdat hulle kwansuis soveel sterre het, en ’n span wat wíl wen.
Waarnatoe nou vir die bekerlose Haaie?
Die problematiese middelveld is bo-aan die lys. Met twee van die Leeus se drie drieë is daar met gemak deur die vlugvoetige Leeus-aanvallers verby van die karperde in die Haaie-agterlyn gesny.
Sonder om te spesifiseer het Plumtree erken dat daar behalwe senter ook ander problematiese posisies is.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24