Haaie-breier twyfel
2011-10-03 10:07
Durban – Hy is nie so seker of die Westelike Provinsie se wendrie in hul Curriebeker-sege van 15-10 oor sy span toegeken moes gewees het nie, het John Plumtree, die afrigter van die Haaie se rugbyspan, Saterdagaand hier gesê.
“Dit het nie vir my gelyk asof hy (Dewaldt Duvenage) die bal onder beheer gehad het toe hy oor die doellyn is nie,” het Plumtree gebrom, maar bygevoeg dat dit maar is hoe dinge in ’n wedstryd kan verloop.
Die televisieskeidsregter, Gerrie Coetzee, het beslis Duvenage hét beheer oor die bal gehad toe hy twee minute voor die einde, met die telling gelykop (10-10) oor die doellyn geskuif het nadat hy ’n skop van die plaasvervanger-losskakel, die FransmanFrederic Michalak, afgestorm het.
Dit het egter gelyk asof hy dalk die bal uit sy hande verloor het net voordat hy oor die doellyn is.
Maar die Haaie kan kla soos hulle wil, die feit bly staan dat hulle nie verdien het om hierdie wedstryd te wen nie.
Met verskeie laat veranderings aan die span, insluitend Jean Deysel wat in ’n verrassende skuif slot gespeel het en Meyer Bosman wat op losskakel uitgedraf het, het die Plumtree se span goed begin en vroeg druk uitgeoefen.
Tog het die Streeptruie dié druk verwerk en skitterend teruggeveg.
Vir die laaste sowat 50 minute was hulle die beste op die veld.
Die Kaapse spelers het met groter oorgawe as die Haaie aangeval en ook uitstekend verdedig.
“Ek moet erken daar was al oorwinnings waarna ek meer teleurgesteld was oor ons spel as ná hierdie nederlaag,” het Plumtree gesê.
“Ek het vandag ’n mate van toegewydheid gesien waaraan ek wil hê die ouens moet in die laaste twee wedstryde vasklou.
“Ons moet nou eenvoudig goed wen teen die Luiperds en dan kyk wat gebeur teen die Leeus,” het hy gesê oor die kragmetings wat voorlê.
Daar lê ’n hewige stryd voor tussen die Haaie, die Cheetahs, die WP en die Blou Bulle om die laaste drie plekke in die halfeindronde.
Net 6 ligapunte skei die Haaie in die tweede plek van die Bulle in die vyfde plek.
“Dit gaan nie maklik wees om daarheen (Phokeng) te gaan en die taak teen die Luiperds afgehandel te kry nie. Die teleurstellendste aspek van ons spel vandag was ons lynstaanwerk.
Dit is onverskoonbaar as jy ’n strafskop hoek toe skop en dan jou lynstaanbal verloor,” het Pluntree gesê oor sy span se poging om sake in die laaste minuut te probeer beredder.
Puntemakers:
Westelike Provinsie 15 (7): Drieë: Danie Poolman, Dewaldt Duvenage. Doelskop: Lionel Cronjé. Strafdoel: Duvenage.
Haaie 10 (7): Drie: Jean Deysel. Doelskop: Meyer Bosman. Strafdoel: Frederic Michalak.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24