Haaie, Griekwas desperaat vir punte
2011-09-23 09:44
Durban – Die omie van die plaas wat by geleentheid in Durban gaan vakansie hou het, het ’n ooreenkoms met die haaie aangegaan: hy belowe om nie in die see in te gaan nie as hulle belowe om nie in die kroeë te kom nie.
Ná hul besoeke die afgelope dekade aan Durban om die span van die Haaie aan te durf, kan spelers van Griekwaland-Wes dalk ook voel dit is ’n plek waar hulle nie welkom is nie.
Die Noord-Kapenaars is byna elke keer die afgelope tien jaar op Kingspark in hul Curriebeker-wedstryde “verslind”.
Net soos wat die Haaie nie lekker kuier in Kimberley nie, is die seelug en Griekwas nie pêlle nie.
Hulle het die afgelope dekade ’n hele paar maal meer as 50 punte afgestaan in wegwedstryde teen die Haaie.
Met die ligafase van die Curriebeker-seisoen wat einde se kant toe staan, raak dit al hoe belangriker om ligapunte bymekaar te hark.
Omdat albei verlede week slae gekry het, sal die Haaie en Griekwas Vrydagaand desperaat wees vir ’n oorwinning.
Riaan Viljoen, wat volgende jaar saam met die Haaie swem, kan vir oulaas ’n doring in sy nuwe span se vlees wees. Maar die Haaie is veral voorlangs kwesbaar en dit is daar waar die Kimberley-manne hulle wil vasvat.
Die spanne is:
Haaie: Stefan Terblanche, Sibusiso Sithole, Marius Joubert, Meyer Bosman, Lwazi Mvovo, Frederic Michalak, Ross Cronjé, Keegan Daniel (k), Jean Deysel, Jacques Botes, Alistair Hargreaves, Anton Bresler, Eugene van Staden, Kyle Cooper, Dale Chadwick.
PLAASVERVANGERS: Monde Hadebe, Wiehahn Herbst, Ross Skeate, Marcell Coetzee, Charl McLeod, Adrian Jacobs, Louis Ludik.
Griekwaland-Wes: Riaan Viljoen, Dusty Noble, Wilmaure Louw, Matthew Rosslee, Rocco Jansen, Earl Rose, Marnus Hugo, Jonathan Mokuena (k), Davon Raubenheimer, Justin Downey, Frikkie Spies, Hendrik Roodt, Lourens Adriaanse, Ryno Barnes, Ivan Espag.
PLAASVERVANGERS: Simon Westraadt, Steph Roberts, Leon Karemaker, Marnus Schoeman, Hanno Coetzee, Monty Dumond, Rudi Vogt.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24