Haai-ysters kan Leeus se sterte knoop
2011-10-15 07:15
Johannesburg – Die Leeus is Saterdagaand op Kingspark in Durban in die laaste Curriebeker-ligawedstryd van die seisoen, teen die Haaie, in ’n interessante posisie.
Hulle is reeds seker van die eerste plek op die puntelys en daar is dus nie in daardie opsig iets om voor te speel nie.
Daarom was dit ’n meesterskuif van die afrigter, John Mitchell, om van sy sleutelspelers ruskans te gee en van die spelers wat grensgevalle is, los te laat.
Waar daar andersins ’n gebrek aan motivering by sy spelers sou wees, hou hy as’t ware die vuur aan die brand deur Dylan des Fountain, James Kamana, Burton Francis, Warren Whiteley, Jaco Kriel, Michael Rhodes en Martin Bezuidenhout te gebruik.
Hulle sal vol geesdrif wees en toesien dat die Haaie nie net maak wat hulle wil nie.
By die tuisspan is daar óók nie ’n gebrek aan motivering nie.
Die Haaie sal wanneer hul opdraf, presies weet wat hulle te doen staan om tweede op die puntelys te eindig.
Dít sal waarskynlik wees om vyf ligapunte te verdien, wat beteken dat hulle met oorgawe sal aanval.
Die groot verskil tussen die twee spanne dié seisoen is juis dat die Leeus omtrent elke keer wanneer dit nodig was gaan druk het, terwyl die Haaie die pad doellyn toe byster geraak het.
Vanaand het hulle darem die versekeringspolis van ysters soos Bismarck du Plessis, Willem Alberts en Jannie du Plessis op die plaasvervangersbank en daar sal op hul knoppies gedruk moet word om die knoop te help deurhak.
Hulle kan geen gunsies van die Leeus verwag nie, want al speel hulle met ’n span wat heelwat anders lyk as dié wat in die halfeindronde sal uitdraf, sal Mitchell dit steeds by sy spelers indril dat hulle hul wenmomentum moet behou.
Tog behoort die vooruitsig om tweede te eindig en dus tuis in ’n halfeindstryd te speel genoeg motivering vir die Haaie te wees om te seëvier.
Die spanne is:
Haaie: Patrick Lambie, Odwa Ndungane, Stefan Terblanche, Marius Joubert, Lwazi Mvovo, Frederic Michalak, Conrad Hoffmann, Ryan Kankowski, Marcell Coetzee, Keegan Daniel (k), Ross Skeate, Jean Deysel, Wiehahn Herbst, Craig Burden, Eugene van Staden. PLAASVERVANGERS: Bismarck du Plessis, Jannie du Plessis, Willem Alberts, Jacques Botes, Ross Cronjé, Jacques-Louis Potgieter, JP Pietersen.
Leeus: Jaco Taute, Deon van Rensburg, Dylan des Fountain, Doppies la Grange, James Kamana, Burton Francis, Michael Bondesio, Warren Whiteley, Joshua Strauss (k), Jaco Kriel, Michael Rhodes, Wikus van Heerden, Jacobie Adriaanse, Martin Bezuidenhout, JC Janse van Rensburg. PLAASVERVANGERS: Bandise Maku, Patric Cilliers, Franco van der Merwe, Derick Minnie, Elton Jantjies, Alwyn Hollenbach/Butch James, Michael Killian.
– Vir al die jongste sportnuus, volg Nuus24Sport op Twitter.
– Sport24