Gulde geleentheid vir Lambie
2012-10-26 07:14
Johannesburg – Die Curriebeker-eindstryd in Durban Saterdag kan vir Patrick Lambie 'n uitstekende geleentheid wees om te bewys dat hy as Springbok-losskakel oorweeg moet word vir die nasionale span se wedstryde teen Ierland, Skotland en Engeland volgende maand.
Lambie sal in Durban vir die Haaie uitdraf wanneer hulle teen die Westelike Provinsie te staan kom in die dramatiese afsluiting van vanjaar se Curriebeker-seisoen.
Terwyl Johan Goosen weens 'n besering nie vir die toetswedstryde in Dublin, Edinburgh en Londen beskikbaar is nie, glo baie rugbyliefhebbers Heyneke Meyer, die Springbok-breier, sal nie op Morne Steyn wil staatmaak in die losskakel-posisie nie.
Lambie het goed vertoon teen Steyn toe die Haaie die Blou Bulle verlede naweek met 20-3 geklop het, en heelwat mense glo hy verdien 'n kans om vir die Bokke uit te draf.
Meyer het egter al gesê hy verskil van dié mening, en voel Lambie moet sy taktiese skopwerk verbeter. Hy het Lambie in die verlede as plaasvervanger-heelagter gekies, ná Zane Kirchner.
Tog het die afrigter al voorheen van opinie verander, veral toe hy Steyn vervang het ná sy skopskoen hom in die steek gelaat het.
Lambie het 'n soortgelyke benadering aan Goosen in die sin dat hy daarvan hou om die voordeellyn aan te val, terwyl Steyn dit verkies om diep op die bal te wag en taktiese skopwerk te gebruik om die spel te verplaas.
Steyn en Lambie sal na verwagting albei deel vorm van die 32-man-toergroep wat Sondag aangekondig word.
– Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sapa - AFP