Groot slag vir Blitse in Doebai
2011-12-01 07:00
Doebai – Die Blitsbokke pak die bestes in die seweswêreld van môre af sonder die beste sewesspeler in die wêreld.
Cecil Afrika, Suid-Afrika en die Internasionale Rugbyraad se Sewesspeler van die Jaar, gaan nié saam met die res van sy spanmaats in die Emirates Airlines se toernooi hier in die woestynstad uitdraf nie.
Die Blitsbok-breier, Paul Treu, moes dié dapper besluit neem nadat Afrika hom nie tevrede kon stel dat hy ten volle van sy ribbesering herstel het nie.
Die Bok-spelskepper behoort wel volgende naweek in Port Elizabeth voor sy tuisskare te speel as die toernooireeks na Suid-Afrika skuif.
“Cecil is fiks, maar ek is nie heeltemal tevrede met sy geestelike ingesteldheid nie. Daarom het ek besluit om hom eerder nié te kies nie en daarmee seker te maak hy speel wel volgende naweek,” het Treu gesê.
Dié besluit is ’n terugslag vir die Blitsbokke, wat sonder Afrika se vlymskerp spel op die aanval nie verlede week veel rigting getoon het nie.
Treu het dié keer vir Branco du Preez ingespan om Afrika te vervang en sy rol as vonkprop vir die span oor te neem nadat die Suid-Kapenaar verlede week se toernooi misgeloop het. “Branco was nog nie 100% verlede week nie, maar hy is nou reg hoewel hy steeds nie baie wedstrydoefening gehad het nie.”
In nog ’n verandering word Steven Hunt deur William Small-Smith vervang.
Woensdag se oefensessie was kliphard, met die spelers wat behoorlik ingeklim het om seker te maak hulle haal die finale 12-tal.
“Dit was nogal erg ja,” het die Blitse se Paul Delport erken.
“Dit was seker nie ideaal dat ons die Woensdag voor die Vrydag van die toernooi nog só onder mekaar inklim nie, maar ten minste wys dit hoe gretig almal is om in die twaalftal te wees.”
Die fiksheid van verskeie spanne is onder die loep, veral omdat die toernooi hier die tweede op die kalender is en deur ’n lang vlug van Australië voorafgegaan is.
Nieu-Seeland se breier, Gordon Tietjens, het gesê: “ ’n Lang vlug is altyd ’n probleem met sulke toernooie, maar die spanne wat dit die beste bestuur, behoort goed te vaar hier.”
Suid-Afrika speel juis teen die Kiwi’s in Groep B.
Die Blitsbok-span is:
Chris Dry, Chase Minnaar, Frankie Horne, Boom Prinsloo, Robert Ebersohn, Kyle Brown (k), Renfred Dazel, Bernado Botha, Paul Delport, Branco du Preez, Mark Richards, William Small-Smith.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg