Griekwas sê aikôna vir Earl Rose
2011-11-10 07:05
Kimberley – Earl Rose is terug in die rugbywoestyn.
Dié losskakel se kontrak met die Griekwaland-Wes Rugbyunie (GWRU) het pas ten einde geloop, skaars ’n jaar nadat die Poubloues sy kwynende rugbyloopbaan ’n tweede asem gegee het.
Nadat hy lank maar taamlik stief behandel is deur die Leeus, het Rose hom vanjaar voor die Vodacombeker-reeks in die Diamantstad aangemeld – ’n skuif wat ’n reddingsboei kon wees om moontlik weer Super Rugby te speel.
Hy is deur die Cheetahs oor die hoof gesien vir die Superreeks, maar is wel later vir ’n paar weke as leenspeler aan die Stormers afgestaan.
Hy het in die Vodacombeker-reeks ’n hele paar goeie vertonings vir Griekwas gelewer, maar het gereeld in die afgelope Curriebeker-reeks tweede viool gespeel – en was soms nie eers deel van die “orkes” nie.
Arni van Rooyen, uitvoerende hoof van Griekwas, het Woensdag bevestig dat Rose volgende seisoen sy rugbyheil elders as in die Noord-Kaap moet vind.
“Ons het daarna gemik om Earl Rose weer te kontrakteer, maar eindelik kon daar nie deur die betrokke partye op ’n bedrag ooreengekom word nie,” het Van Rooyen gesê.
Dit verbaas ’n mens nie dat Griekwas nie harder baklei het om Rose te behou nie. Hy het in die Curriebeker-reeks gereeld die plaasvervangersbank warm gehou terwyl Riaan Viljoen op losskakel ingespan is.
En met laasgenoemde wat nou na die Haaie vort is, het Griekwas reeds twee spelers gekontrakteer wat die Viljoen-leemte kan help vul.
Die Blou Bulle-losskakel Marnitz Boshoff behoort die eerste keuse te wees, maar die gewese Bolandse heelagter Willie le Roux kan ook in die nr.10-trui ingespan word. Selfs die heelagter Rudi Vogt kan as losskakel gebruik word.
“Ons is voorlopig klaar gekontrakteer en sal dus nie nog spelers nader nie,” het Van Rooyen gesê.
Rose se agent, Anthony Johnson, het gister bevestig dat hulle ander moontlikhede ondersoek. “Ons is besig om veral te kyk na moontlikhede in die buiteland,” het Johnson gesê. “Ek gee nie om of dit in Suid-Afrika of in die buiteland is nie, solank ek net kan rugby speel,” het Rose gesê.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg