Goue Beker net die begin – Kevin
2011-11-01 07:03
Johannesburg – Die verowering van die Curriebeker is maar net deel van die Goue Leeus se einddoel om weer die groot krag te word wat hy eens was.
Kevin de Klerk, wat in die afgelope twee jaar sedert hy as president van die Goue Leeus Rugbyunie aangestel is ’n sleutelrol in die herlewing van die unie se sukses gespeel het, glo daar is baie waarna Leeus-ondersteuners kan uitsien.
“Om die beker te wen, is absoluut wonderlik vir my jongmanne,” het De Klerk Sondag gesê toe hy soos ’n trotste pa gesit en kyk het hoe Johannesburgers in hul honderde naderstroom om hul Leeus-helde se handtekeninge te kry.
“Dit is ook wonderlik vir my bestuur, my komitees en vir die mense van Gauteng vir wie ons die beker weer uiteindelik kon huis toe bring. Maar ons bly nederig en weet waar die ding vandaan kom,” het De Klerk gesê.
Die oortuigende wyse waarop die Leeus die Haaie in die eindstryd platgeloop het, sal vir ewig vir De Klerk ’n hoogtepunt bly.
Hul oorwinning met 42-16 is die grootste sege in ’n Curriebeker-eindstryd sedert Noord-Transvaal se oorwinning met 39-9 oor die Westelike Provinsie in 1980.
Eindstryde in die reeks word reeds sedert 1939 beslis.
Boonop was dit die tweede meeste punte wat ’n span in ’n eindstryd kon aanteken en slegs die magtige Transvaal-span van 1994 het dit oortref toe hy in Bloemfontein met 56-33 oor die Vrystaat baas was.
Wat punte deur een speler in ’n eindstryd betref, staan die Leeus se prins, Elton Jantjies, met sy 24 punte nou slegs derde agter Derick Hougaard (26 punte, 2002) en Patrick Lambie (25 punte, 2010).
Jantjies se puntetotaal is gelyk aan Naas Botha (1987) en Braam van Straaten (2001) se prestasies.
Dit alles dra by tot die indrukwekkendheid van die Leeus se eindstryd-heldedade.
Dan praat ’n mens nog nie eens van die donker gat waarin die unie hom nog redelik onlangs bevind het toe die Lions se Super Rugby-span onder Dick Muir se afrigting al 13 sy wedstryde verloor het nie.
Ook die skeuring vroeër vanjaar tussen die GLRU en sy vennoot, GumaTAC, het die Leeus nie ondergekry nie en De Klerk-hulle kon weer orde skep en keer dat dít spansake beïnvloed.
Die moontlike insluiting van die Oos-Kaapse streekspan, die Kings, in die Super-reeks ten koste van die Lions, sal ook nou veel moeilker kan geskied ná die Gautengers se welverdiende Curriebeker-sukses die afgelope naweek.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg