Goose kan vanjaar Bok word – Hawies
2012-01-17 09:01
Bloemfontein – ’n Goeie Super-rugbyreeks is al wat tussen Johan Goosen en ’n Springbok-trui staan.
Só meen Hawies Fourie, agterlyn-afrigter van die Cheetahs, oor sy losskakel wat deur baie Bok-ondersteuners as die gesalfde generaal, waarop hulle jare lank gewag het, beskou word.
Die 19-jarige Goosen sal straks op 25 Februarie teen die Lions, in sy span se eerste Super-wedstryd die seisoen, sy buiging in die reeks maak.
Die Goose het boonop vanjaar sy eerste ware voorseisoen as senior speler gehad en dit sal hom volgens Fourie beslis help.
Dié breier meen ook Goosen se wedywering met Sias Ebersohn as Cheetahs-losskakel sal die beste uit hom haal.
Kort ná Goosen se Curriebeker-buiging vir die Vrystaat in 2011 het menige kenner dieselfde gevolgtrekking gemaak: die knapie is pure Bok.
Hoewel hy in Junie vir die Jong Bokkies in die o.20-Wêreldtoernooi behoort te speel, sal min se oë rek as die nuwe Springbok-afrigter hom kies.
“Johan se vertoning in Super-rugby sal bepaal of hy vanjaar al vir die Bokke gaan speel. Hy het beslis die talent om dit te doen,” sê Fourie.
“Maar hy het kompetisie van ’n paar goeie jong losskakels.
“Elton Jantjies (Leeus) het verlede jaar ’n goeie Curriebeker gehad en Patrick Lambie (Haaie) kan ook in dié posisie speel.
“En moenie van Sias Ebersohn vergeet nie. Hy het in 2011 ’n goeie Super-reeks gehad en hy en Johan sal mekaar druk vir die Cheetahs se losskakel-trui.”
Fourie sê Goosen het vinnig sy voete in die Curriebeker gevind en hy moet nou dieselfde in Super-rugby doen.
Goosen het verlede jaar dié tyd ’n skorsing van drie maande weens die gebruik van metielheksaneamien uitgedien en was nog tussen Grey-kollege en senior rugby. Hy het dikwels in 2011 se Curriebeker krampe gekry en volgens die Vrystaatse mediese span was dit weens ’n kort voorseisoen en skielike oorgang na senior rugby.
“Johan se lang voorseisoen sal hom beslis help. Niel (du Plessis, die Cheetahs se fiksheidsafrigter) doen goeie werk en ons voorseisoense voorbereiding het baie verander. Die doel is nou om die spelers beter atlete te maak, eerder as om hulle groter en sterker te maak. Dit pas Johan soos ’n handskoen, aangesien hy van nature ’n goeie atleet is. Dit sal die beste uit hom haal,” sê Fourie.
Volgens hom is die Cheetahs bevoorreg om Goosen én Ebersohn te hê. “Ons het beslis meer diepte op losskakel. In die verlede het ons dikwels kleigetrap met ’n goeie tweede keuse op nr.10. Ons is waarskynlik die gelukkigste van al die Suid-Afrikaanse spanne om twee sulke goeie jong losskakels te hê.”
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg