G'n aanbod aan Frans
2011-12-11 07:00
Johannesburg – Terwyl die Goue Leeus nog vroeër vanjaar hardnekkig gepoog het om Frans Steyn as Suid-Afrika se verlore seun uit Frankryk terug na sy tuisland te bring, is daar tans geen aanbod op die tafel om Steyn volgende jaar na die Goudstad te lok nie.
Steyn se agent, Gerrie Swart, het vroeg vandeesweek aan Sport24 gesê dié Springbok-breker oorweeg dit om weer in Suid-Afrika te kom speel wanneer sy kontrak met sy Franse klub, Racing Metro, aanstaande jaar verstryk.
Swart was dié week in Frankryk om met Steyn samesprekings te voer, aangesien Racing Metro glo alles in die stryd wil werp om Steyn daar te hou.
“Ons is besig om met Racing te onderhandel. Frans sal dit altyd oorweeg om in Suid-Afrika te kom speel. Hy wil vir die Springbokke speel. Maar daar is nog niks konkreets nie,” het hy oor moontlike aanbiedinge uit Suid-Afrika gesê.
Die Goue Leeus Rugbyunie het by monde van sy tussentydse uitvoerende hoof, Ruben Moggee, gesê hulle het nog geen aanbod aan Steyn gemaak nie.
Tog erken die Leeus en hul afrigter, John Mitchell, hulle sal graag oor ’n gehalte-speler soos Steyn wil beskik.
Wat die Leeus se vroeëre belangstelling in Steyn betref, was dit die unie se voormalige sakevennoot, Robert Gumede, wat die groot dryfkrag agter só ’n skuif was. Die skeuring tussen die GLRU en Gumede se GumaTAC-konsortium as die Leeus se ekwiteitsvennoot, het die Steyn-ooreenkoms finaal laat steier.
Boonop lyk dit nie of die Leeus, selfs in hul nuwe vennootskap met die sakeman Altmann Allers, gou spandabelrig op die dienste van groot name soos Steyn gaan raak nie.
Daar was gerugte dat die GLRU sy spelers se salarisse net tot aan die einde van Desember sal kan betaal, maar dié is heftig deur sy president, Kevin de Klerk, ontken.
De Klerk het gedreig om regstappe teen die rugbyskrywer Tank Lanning te neem, nadat hy aantygings op ’n sosiale webwerf gemaak het.
Selfs al spook die GLRU met ’n groot geldlas, is hy juis die afgelope tyd besig om sy uitgawes, soos sy spelersbegroting, te organiseer en selfs te knip.
Die groot oorskot gekontrakteerde senior spelers by die Leeus was ’n groot las, terwyl dié oortollige spelers ook nie voldoende speelkans kry nie.
Tot 20 spelers se kontrakte is nie aan die einde van die 2011-seisoen hernieu nie – en volgens inligting probeer die GLRU en die Suid-Afrikaanse Spelersvereniging nóg ’n handvol spelers se kontrakte binne die volgende week aan ander unies oorgedra te kry.
Sover bekend sluit dit wel nie die Leeus se voorste spelers, wat onlangs die Curriebeker gewen het, in nie, maar sien die Leeus nie verder kans om ongebruikte spelers te betaal nie.
Die Leeus mik glo daarna om min of meer drie spelers in elke posisie met ’n kontrak te behou – sowat 45 tot 50 senior gekontrakteerdes.
– Sport24
– Bly op hoogte van al die jongste sportnuus deur Nuus24Sport op Twitter te volg