Gesoek: Doepa vir siek Pukke
2011-02-27 12:25
Johannesburg - Die jeug van die wêreld het klaarblyklik genoeg mag om ná ’n duur kongres hier by die stad se plaaslike skouterrein die regerings van Tunisië, Egipte en skynbaar mal-Muammar tot ’n val te bring.
Ja, reg. Net so min soos die organiseerders van daardie wêreldjeugfees self ook die klammerige polonietoebroodjies geëet het wat as middagetes bedien is, soveel (of so min) is jong vryheidsvegters daarná van hier met ’n nuwe politieke bestel terug na hul eie lande toe.
Wat wel seker is, is dat, soos Gaddafi, nie eens die mees ervare breier in die Varsitybeker veilig kan voel nie.
Vra gerus vir Rudy Joubert, wat in die eerste maand daarvan so ongewild op die Puk-kampus geword het dat hy – à la langarmdans –vir eers as sondebok gesien is omdat die Pukke heel onder op die puntelys is.
Hannes Esterhuizen het gelukkig nie veel hare om uit te trek nie, dus kan die meeste van sy energie in sy “instaan-pos” gebruik word om die Pukke weer op die wenpad te probeer kry.
Om dit by sy noordelike buurman, steeds onoorwonne én stert in die lug, daar skuins anderkant die Westdene-dam te gaan regkry, is sommer ’n bitter steil bult vir ’n span wat sukkel om sy ratte te vind.
Maar Estherhuizen het ’n wonderlike gawe om jong spelers saam te voeg tot ’n mededingende groep en spanne onder hom speel met ’n kombinasie van kliniese doeltreffendheid en ’n skeut avontuurlustigheid.
Baie waar UJ hom vanjaar bevind en dis juis dié eienskap wat hulle gehelp het om verlede week die Shimlas se toonnaels te trek.
Ja, Maties, Tukkies en die Ikeys lyk saam met die UJ reeds na die halfeind-kandidate, maar dit sal nie net hulle drie en die Shimlas wees wat gaan juig as die Pukke môre regop kom nie.
Die kompetisie het ’n sterk Puk-span nodig en belangriker nog, Potchefstroom het ’n sterk Puk-span nodig. En terwyl die besems daar langs die Mooirivier vee, hoe lyk dit sommer met nuwe truie ook?
Geen sulke probleme in Bloemfontein nie, waar die kenmerkende kleure van Tuks en die Shimlas bots. Tuks eindig die reeks met agtereenvolgende wedstryde op sy tuisveld, maar vir daardie twee om van belang te wees, moét hy môre as wenner by Shimlapark se hek uitry.
Die Ikeys doen stilweg hulle ding en wag TUT met ’n kalm selfversekerdheid in. Dit is nog nie heeltemal windgat nie, want enige span wat TUT onderskat, kan agterna lang trane huil.
Die Maties speel teen NMMU en behoort maklik te wen, al het Chean Roux nie heeltemal sy sterkste span gekies nie.
Dit is opvallend dat spelers wat gister nog Vodacombeker-rugby vir hul unies gespeel het, vandag weer in aksie is. Dis jammer, want die twee reekse is juis veronderstel om verskillende vlakke van spelers te bedien.
Maar dit is dalk nog ’n aanduiding dat dié kompetisie besig is om die Vodacombeker-reeks in te haal én verby te steek.
Vir die jongste sportnuus volg Nuus24Sport op Twitter.
- Sport24