George gereed vir sewes-aksie
2012-12-14 07:11
George – Die Premier Sewesliga het sopas 2 000 ooppaviljoen-kaartjies beskikbaar gestel teen R100 stuk. Hierdie sewestoernooi vind Vrydag en Saterdag op Outeniquapark in George plaas en die normale kaartjieprys is R250.
Al 12 spanne het Donderdagmiddag by die Garden Route-inkopiesentrum handtekeninge en rugbyballe uitgedeel.
Die toernooi-promotor, Willem Strauss, het toe aan Sport24 gesê daar is weselike geesdrif onder vakansiegangers en inwoners van George te bespeur, "maar ons moet dit vir die mense moontlik maak om die toernooi ook in hul eie stadion te beleef. Daarom stel ons hierdie kaartjies teen ’n spesiale tarief beskikbaar".
Die opwinding het die dorp eers Donderdagoggend behoorlik beetgepak toe al die spanne in George aangekom het. ’n Ellelange spelerskonvooi, gelei deur ’n loeiende brandweerwa, het van 14:00 tot 15:00 deur George se strate beweeg, waarna die spanne vir die handtekeningsessie stilgehou het.
Makhaya Ntini, spanbestuurder van die Kaizer Chiefs, was sy gebruiklik bekkige self en kon met die grootste helderheid bo die geraas van die besige winkelsentrum gehoor word.
"Hoor hoe raas daai man. Dis mos nou die soort atmosfeer wat ons met hierdie toernooi wil hê," was Strauss se reaksie toe Ntini – ’n krieketspeler en spanbestuurder van ’n sokkerklub se sewesspan – meer handtekeninge moes uitdeel as enige van die rugbyspelers.
Al die aksie word Vrydag van 10:15 af op SS6 op DStv uitgesaai.
Die gunsteling is in hierdie stadium die Samurai – eintlik die Suid-Afrikaanse Elite-ontwikkelingspan. Marius Schoeman, sy bestuurder, het wel gesê daar is ’n paar spanne wat nie onderskat moet word nie. Een so span is Fabian Juries se Vikings. Hierdie troepe het vandeesweek al ’n paar van die Premierliga-spanne ’n pak gegee en dít sonder dat al die eerstekeuse spelers in aksie was.
Van die rugbyunies en -franchises is die Cheetahs en Sharks die gunstelinge, maar met eersgenoemde sal dit interessant wees om te sien hoe bewese vyftienmanspelers in ’n sewesomgewing vaar.
– Volg Nuus24Sport op Twitter.
- Nuus24